

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2010
Terwyl die gemeenskap van Levubu hul harte en hande oopmaak vir die gesin wat alle besittings in ‘n onlangse brand verloor het, het vrae by lede van die gemeenskap ontstaan oor die polisie se optrede tydens die noodsituasie.
Die brand het om 01:00 op 29 November ontstaan by ‘n huis reg oorkant die Levubu Polisiestasie. Die binnekant van die huis is in puin gelê en alle besittings van die huurders het in vlamme opgegaan. Gelukkig het mnr. en mev. Hein en Angie Rudolph en hul twee kinders betyds uit die vlamme ontsnap en ongedeerd daarvan afgekom. Die Levubu-gemeenskap het hulle op ‘n wonderlike wyse ontferm oor die gesin, wat as’t ware net die nagklere aan hul lyf oorgehou het.
Die brand het in die kamer naaste aan die pad ontstaan. Daar was ‘n tuimeldroër in wat ingeprop was, maar nie in werking was nie. Die bespiegeling is dat daar een of ander kortsluiting moes ontstaan het.
Die vlamme en rook was sigbaar vanaf die polisiestasie.
Angie het ‘n polisieman gevra om sy selfoon te leen om hulp te ontbied, maar dié het botweg gesê dat sy by die stasie moet gaan bel. Sy het in haar nagklere oor die straat gehardloop en gevra om te skakel. Die persoon wat besig was om op die foon te gesels, het na bewering eers rustig klaar gepraat en daarna aandag aan haar geskenk en die brandweer ontbied.
Volgens omstanders was daar verskeie polisiemanne op die toneel, maar dit het voorgekom of hulle onbetrokke gestaan en toekyk het.
“Ek was self op die toneel nadat die brand uitgebreek het. Die polisiemanne het skouers opgetrek en geen hulp aangebied nie. Ek sou sê vinnige optrede in ‘n noodsituasie is belangrik vir die polisiemag. Medemenslikheid moet ook ‘n rol speel. Die polisie se optrede strek myns insiens wyer as net die afneem van verklarings en die arrestasie van misdadigers,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie op 3 Desember gesê.
Die slagoffers het gesê dat dit vir hulle gevoel het asof hulle geen simpatie en geen hulp van die polisie ontvang het nie. So het ´n polisiebeampte daarop aangedring dat Hein onmiddellik na die polisiestasie moet gaan om ´n verklaring af te lê. Dit terwyl hy met slegs sy onderklere aan en vol roet gestaan en kyk het hoe alles wat sy gesin besit deur die vlamme verswelg word. Hein het vroeg die volgende oggend, nadat hy klere in die hande gekry het en kon gaan bad, sy verklaring afgelê.
Gemeenskapslede was ook geskok toe hulle hoor daar is vyf brandblussers in die polisiestasie.
“Die brand was aan die begin blusbaar. Indien die brandblussers die kamer kon bereik het, kon dit dalk gekeer het dat die hele huis afbrand,” het Hoffman gesê.
Mnr. Herman de Jager, die veiligheidsvoorsitter van TLU SA, voel ongelukkig dat die polisie nie die oomblik toe hulle die vlamme gesien het, die brandweer betyds uitgekry het nie. Iemand moes eers kom kla.
“Dit is skokkend dat hulle net so kan staan en kyk en ‘n verklaring wil afneem, terwyl die persoon getraumatiseer is,” het De Jager gesê.
Vrae oor die polisie se optrede is deur die Zoutpansberger aan die SAPD se provinsiale kommunikasie-afdeling in Polokwane gestuur. In antwoord het provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Ronel Otto, Maandag gesê dat die vrae aan Limpopo polisiewoordvoerder, kol. Motlafela Mojapelo, voorgelê sal word. Dinsdag is nog geen van die vrae beantwoord nie, maar Otto het aangedui dat die polisie se optrede ondersoek sal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
