ADVERTISEMENT:

 

´n Oorstelpte Basie van der Merwe verlaat die staatsgevangenis op Louis Trichardt. Saam met hom is sy vriendin, Elize van der Merwe.

Vroeë Kersfees vir Van der Merwe

 

News  Date: 17 December 2010

 

Kersfees het vroeg gekom vir die 47-jarige Basie van der Merwe ná hy Dinsdagmiddag op borg vrygelaat is.

Die 47-jarige Van der Merwe, ‘n oud-onderwyser, het op 6 Julie begin om sy ses-jaar-lange gevangenisstraf uit te dien, nadat hy in die streekhof op Louis Trichardt daaraan skuldig bevind is dat hy vir ‘n jaar lank ‘n seun onsedelik aangerand het. Dit het plaasgevind, terwyl hy ‘n onderwyser by Hoërskool Eric Louw op Musina was. Hy was ook rugby-afrigter by die skool.

“Dit was maande van hel.”

Só het ´n merkbare oorstelpte Van der Merwe Dinsdag buite die staatsgevangenis op Louis Trichardt gesê, terwyl hy die trane probeer keer het.

Van der Merwe se vrylating volg nadat sy aansoek om verlof tot appèl in die Noord Gauteng Hooggeregshof in Pretoria verlede Woensdag toegestaan is. Boonop is die aansoek volledig toegestaan, wat sal beteken dat Van der Merwe se regspan teen al die teenargumente appèl sal kan aanteken.

Pas twee weke nadat Van der Merwe sy vonnis in die staatsgevangenis op Louis Trichardt begin uitdien het, het sy gesondheid tot so ‘n mate verswak dat hy pal bedlêend was of aan ´n rolstoel gekluister was. Hy sê sy lewensomstandighede agter tralies was glo onmenslik. Volgens Van der Merwe se skoonsuster, me. Daisy van der Merwe, ly Basie al vir meer as 15 jaar aan kroniese hoë bloeddruk, cholesterol en jig.

Vyf dae nadat Van der Merwe sy vonnis begin uitdien het, het ‘n vriendin, me. Elize van der Merwe, sy medikasie vir hom gebring. Gevangenisdienste het egter glo geweier dat sy die medikasie vir hom gee, aangesien dit teen regulasies was. Dit het Daisy destyds genoop om by die provinsiale bestuurder van die Menseregtekommissie, mnr. Jeffrey Nkuna, aan te klop vir hulp.

Volgehoue druk deur die Menseregtekommissie het egter geen resultate gelewer nie en na talle hospitaalbesoeke was die enigste medikasie wat Van der Merwe ontvang het 12 kortisoonpille en ‘n Voltaren-inspuiting per dag. Gevangenisdienste het volgehou dat hy sy regte medikasie ontvang.

Dit het Daisy en haar man Janus, Van der Merwe se broer, laat besluit om die aansoek in die hof te bring. In September het Van der Merwe se toestand so verswak, dat hy vir drie weke in die Pretoriase Hart- en Longhospitaal opgeneem moes word. Dokters het gesê die feit dat hy nie sy regte medikasie gekry het nie, sy harttoestand laat versleg het. “Ons wil hom eerder by die huis hê, sodat hy weer sy medikasie kan kry en kan gesond word,” het Daisy Dinsdag gesê.

Volgens Van der Merwe se regspan, me. Katie Jordaan en advokaat Graham Kerr-Phillips, sal Van der Merwe se verswakte gesondheid die basis van hulle appèlsaak vorm. Verder sal hulle ook die seun se getuienis en die landdros se uitspraak en vonnis betwis deur nuwe getuienis te bring. Hulle voer aan die landdros in die saak het gefouteer deur slegs uitspraak te lewer op grond van die seun se getuienis.

Tydens Dinsdag se hofverskyning in die plaaslike streekslanddroshof is Van der Merwe vrygelaat op R15 000 borg, hangende sy appèlaansoek. As deel van sy borgvoorwaardes sal hy elke Maandag en Vrydag in die oggend en middag by die Honeydew polisiestasie aanmeld. Hy moet ook sy paspoort inhandig en mag nie kontak maak met die seun of enige ander getuies in die saak nie.

Van der Merwe se regspan het reeds aangedui dat hulle ‘n aansoek by die Hooggeregshof sal indien om die borgvoorwaardes te verander. Volgens Daisy is dit sodat Van der Merwe weer kan terugkeer na Musina in ‘n poging om sy lewe te hervat.

“Hy wil graag weer in die onderwysstelsel kom,” het Daisy gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines