

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 December 2010
In April vanjaar is die heropening van die Ben Lavin Manavhela Natuurreservaat met groot fanfare aangekondig, nadat etlike miljoene rande gespandeer is om die reservaat tot sy voormalige glorie te herstel. Die opgewondenheid was egter van korte duur en vinnig-vinnig was die kwessie rondom die bestuur van die reservaat in omstredenheid gehul.
Die reservaat van bykans 2 500 hektaar net suid van Louis Trichardt is in 2002 ná ‘n suksesvolle grondeis aan die Manavhela-gemeenskap teruggegee. Sedertdien het die reservaat dramaties agteruitgegaan weens ‘n tekort aan fondse.
In 2007 is Khulile Africa, ‘n nie-winsgewende organisasie, gevra om die gemeenskap uit te help met fondse vir opgraderingswerk. Dit het bykans 20 maande en miljoene rande gekos, voordat die reservaat weer oopgestel kon word vir die publiek.
Die spreekwoordelike bom het egter gebars ná mnre. Ron Sparrow en Jaco Oberholzer op 30 April vanjaar aangekondig het dat hulle die reservaat se bestuur oorgeneem het, ingevolge ‘n ooreenkoms met die Manavhela-gemeenskap.
Op 6 Maart het die Manavhela Communal Property Association (CPA) en die koninglike raad ‘n ooreenkoms met Oberholzer en Sparrow (handeldrywend as Wildlife Solutions) gesluit waarin hulle Wildlife Solutions toestemming gee om die nuwe, opgegradeerde reservaat te bestuur.
In nog ‘n dokument, twee dae later, het die Manavhelas gesê dat hulle die reservaat intussen van hulle weldoener, Khulile Africa, in ontvangs geneem het en dat Wildlife Solutions nou toestemming het om die reservaat te bestuur tot tyd en wyl ‘n diensooreenkoms geteken word.
Daar was ook ‘n derde dokument waarin daar toestemming gegee is dat Wildlife Solutions riviersand mag uithaal “tot met die einde Mei om salarisse te betaal wat nie deur Khulile betaal is nie.” Die kwessie rondom die uithaal van die sand sou later probleme veroorsaak. Afskrifte van hierdie dokumente is aan die Zoutpansberger gegee.
As bestuurders het Oberholzer en Sparrow groot planne vir die reservaat gehad in die vorm van gemeenskaps- en opheffingsprojekte. Teen die einde van September wou dit egter voorkom asof alle aktiwiteite op die reservaat tot stilstand gekom het. Inwoners kon nie besprekings plaas nie en selfs dagbesoekers is toegang tot die reservaat geweier.
By navraag het Oberholzer en Sparrow ‘n duistere prentjie geskilder van wat besig was om by die reservaat te gebeur. Volgens hulle het die Manavhela-gemeenskap net skielik besluit om die ooreenkoms met hulle te beëindig en teen Junie is alle aktiwiteite op die reservaat gestaak.
Veral Sparrow was bitter oor die wyse waarop die kontrak met hom en Oberholzer beëindig is. Volgens hom het hulle kaptein Herbert Manavhela genader en was dié, asook die voorsitter van die CPA, gretig om die ooreenkoms te onderteken. “Hulle het ons gevra om ‘n aanbod in te sit, wat ons gedoen het en daardie proses het amper ‘n jaar geduur,” het Sparrow verduidelik.
Ná die aankondiging dat hulle die bestuur van die reservaat oorgeneem het, sê Sparrow, was van die Manavhelas wat nie deel gevorm het van die CPA nie, ontstoke omdat hulle gevoel het hulle is uit die proses gelaat.
“Toe hulle [Manavehla’s] gelees het dat daar iets op Ben Lavin gedoen word, het die vorige CPA lede vergader en gesê: ‘Hei, die CPA het dit [reservaat] vir twee wit ouens gegee.’ Wat toe gebeur het, was dat die ongelukkige vorige CPA-lede saamgespan het en besluit het om alles te stop,” het Sparrow gesê. Hy het tot die slotsom gekom dat die Manavhelas nooit ernstig was oor die reëlings aangaande die reservaat nie.
“Vir die afgelope ses, sewe jaar is hulle al op die reservaat en in daardie tyd het hulle nog nooit iets op die reservaat gedoen nie. Al wat gebeur het, is dat hulle wild verminder het, die huise het bouvallig geword en die grensdrade is nie onderhou nie.”
Kapt. Manavhela is genader en gevra hoekom Wildlife Solutions se ooreenkoms beëindig is, ten spyte van ‘n ooreenkoms. Hy was egter sku om kommentaar te lewer en het bloot gesê dat hy wag vir die nuwe CPA om “klaar te baklei” en dan eers die saak sal verder voer. Hy het die koerant aangeraai om eerder met die huidige CPA voorsitter, mnr. Rathiyaya Manavhela, te praat.
Na talle oproepe het Rathiyaya steeds geweier om kommentaar te lewer, maar het onderneem om ‘n vergadering tussen die CPA en die koerant te reël. Hierdie vergadering het hy egter by twee geleenthede gekanselleer. Rathiyaya was ook traag om kommentaar te lewer oor die sand wat glo onwettig op die reservaat uitgehaal is en kon nie sê of die nodige permitte by die Departement van Omgewingsake bekom is wat Wildlife Solutions toelaat om te myn nie.
Die kwessie oor die sand het ook kritiek ontlok van Khulile Africa se programbestuurder, me. Elizabeth Lemmer. Lemmer het aangevoer dat die Manavhelas ook bekommerd was oor die aanstelling van Wildlife Solutions, nadat hulle uitgevind dat Oberholzer vroeër gelikwideer is.
“Hulle [Wildlife Solutions], het ‘n wanvoorstelling van hulself aan die komitee voorgehou. Die gemeenskap het eers later uitgevind dat Oberholzer miljoene aan die bank skuld,” het Lemmer tydens ‘n besoek aan die Zoutpansberger gesê.
Volgens Lemmer het sy Wildlife Solutions vooraf gewaarsku dat hulle voorgestelde huurooreenkoms teen die grondwet van die Manavhelas is en dat die kaptein geen magtiging gehad het om vir hulle toestemming te gee nie. Behalwe vir die totale verwoesting wat Wildlife Solutions glo volgens haar op die reservaat aangerig het, het hulle ook van die reservaat se besprekings vir die Kremetart Fietswedren gekanselleer. “In daardie stadium het Oberholzer se vrou die besprekings namens die reservaat hanteer en toe hulle kontrak gestop is, het sy al die besprekings gekanselleer,” het Lemmer gesê.
Oberholzer en Sparrow is weer genader vir kommentaar toe dit ook aan die lig gekom het dat daar nie so ‘n maatskappy soos Wildlife Solutions geregistreer is nie.
“Wildlife Solutions sou eers amptelik tot stand gekom het, nadat ons die amptelike dokument wat deur prokureurs opgestel sou word, onderteken het. Ons wou nie koste aangaan nie, omdat ons die Manavhelas nie heeltemal vertrou het nie,” het Oberholzer verlede week per e-pos gesê. Hierdie stelling is ietwat in teenstelling met ´n vorige bewering van Sparrow dat hulle nagenoeg R100 000 in April gespandeer het op die reservaat aan herstelwerk.
Die feit dat hy gelikwideer is, is aan die CPA bekend gemaak, meen Oberholzer. “Ek en Ron het saam heelwat geld in Ben Lavin ingesit omdat ons dit as ‘n geleentheid gesien het. Dit is ons wat die risiko geneem het; hulle het nie nodig gehad om enige geld uit te lê nie! Vir ons moeite het ons derduisende verloor!”
Besprekings is ook nooit deur hulle hanteer nie, sê Oberholzer. “Hulle moet maar die bewyse bring. Ek wens dit was so, dan het ons bietjie van ons geld terug gekry!!” Oberholzer het sy misnoeë uitgespreek oor die feit dat hulle name sleggemaak word.
Intussen het Lemmer gesê dat die reservaat nog altyd oop was en dat hulle steeds groot planne vir die reservaat het.

ADVERTISEMENT:
