

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 December 2010
Geen terugvoer is ontvang van die munisipale bestuurder van die Makhado Munisipaliteit na aanleiding van ‘n prokureursbrief wat deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) gestuur is insake moontlike kriminele klagte teen die rekenpligtige beampte nie.
Die prokureursbrief, gedateer 18 November, dui aan dat die munisipale bestuurder 30 dae het om te verduidelik waarom kriminele klagtes nie teen hom as rekenpligtige beampte gelê behoort te word nie.
Aan die einde van verlede maand het die munsipale bestuurder, mnr. Shadrack Tshikalange, gesê dat hy besig is om die dokumentasie te bestudeer.
Die SBBV het op 20 Desember bevestig dat geen antwoord ontvang is nie. Die SBBV voorsitter, mnr. Frans Prinsloo, het gesê dat die SBBV nie die klagtes uitgedink het nie.
“Die kriminele klagte wat voorberei was, was gebaseer op die Ouditeur Generaal se verslag. Meer nog, die klagte was gemeet aan die beskrywing van kriminele klagte in die Munisipale Finansiële Bestuurswet, Artikel 173. Dieselfde wet bepaal ook straf wanneer oortredings begaan is. Artikel 174 van die wet dui aan dat, indien ‘n rekenpligtige beampte skuldig bevind word, tronkstraf van tot 5 jaar of ‘n toepaslike boete deur die hof opgelê kan word,” het Prinsloo gesê.
In die gees van Kersfees het Prinsloo ook gesê dat daar geen kwaadwilligheid van die SBBV se kant is nie.
“Die doelwit is nie om ‘n persoon aan te val nie, maar om goeie korporatiewe bestuursbeginsels te vestig, sodat die gewone burgers weer kan doen wat hulle veronderstel is om te doen en die mense wat in die munisipaliteit aangestel word, hulle werk kan doen. Dit is die enigste manier. Dié wat in regeringsposte aangestel word, moet met ywer en oorgawe hulle werk doen, sodat wetsgehoorsame burgers die staatstruktuur kan gebruik om hulle lewens te bou tot voordeel van die hele gemeenskap,” het Prinsloo gesê.
Die SBBV pleit dat bekwame mense in senior poste aangestel word.
Prinsloo het aangedui dat 2011 ‘n bepalende jaar vir die SBBV gaan wees. Strukture is reeds in plek om die uitdagings te hanteer. In verband met die verdere aksies teen die rekenpligtige beampte, sal ‘n besluit in die nuwe jaar geneem word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
