ADVERTISEMENT:

 

Man R13 000 kwyt danksy kaartkloondief

 

News  Date: 14 January 2011

 

Stel jou dit voor ... Vir ´n jaar lank swoeg jy vir jou bonus, maar oppad na jou vakansiebestemming kom jy agter iemand is besig om jou swaarverdiende vakansiegeld uit jou rekening te steel.

´n Inwoner van Louis Trichardt, wat graag anoniem wou bly, en sy gesin het hulle in so ‘n nagmerrie situasie bevind, nadat nagenoeg R13 000 deur ´n kaartkloondief uit sy rekening gesteel is.

Die inwoner het op 17 Desember saam met sy gesin na Mosambiek vertrek. Voor hul vetrek het hy by ´n plaaslike vulstasie gestop om by ´n buitemuurse OTM geld te trek. Hy is egter meegedeel dat hy sy daaglikse limiet oorskry het.

Omdat hy reeds die vorige dag ‘n bedrag getrek het, het hy nog nie onraad vermoed nie. Teen die tyd wat hy egter in die Krugerwildtuin aangekom het, het hy begin SMSe ontvang dat daar onttrekkings uit sy rekening gemaak word. By die Singwedzi-kamp het hy dadelik gestop en weer geld probeer trek, maar die OTM het steeds dieselfde boodskap van ‘n oorskreide limiet gegee. Die man het dadelik sy bank gebel, maar teen dié tyd was dit reeds te laat.

Die eerste keer is R3 000 uit sy rekening onttrek. Hierna het die kaartkloondief R4 959 spandeer op drank by ´n drankwinkel op Letsitele, waarna hy ‘n verdere R2 355 spandeer het by Die Kelders, ook op Letsitele, en nog R2 000 by Audio Corporation in Tzaneen.

“Hier sit ek in die wildtuin, oppad Mosambiek toe, en só iets gebeur met my,” het die man vertel. “Mens hoor net altyd van die dinge, maar jy dink nooit dit sal met jou gebeur nie.”

Vakansieplanne moes eers vir ‘n wyle opsy geskuif word, terwyl die bank gekontak moes word om verdere transaksies te verhoed. Nadat die man daarin kon slaag om sy kaart te stop, was dit ‘n beslommernis om ‘n saak by die polisie te open. Die naaste polisiestasie was in Phalaborwa, en die polisie daar wou eers bankstate hê as bewyse dat hy nie self die geld getrek het nie.

Tot dusver blyk dit dat die man die enigste slagoffer van die kaartkloondiewe op Louis Trichardt was. Sulke kaartkloners is uiters geslepe en maak gebruik van die nuutste tegnologie om hulle slagoffers se kaarte te kloon. In sommige gevalle installeer die diewe ´n klein kamera by die OTM wat mense se geheime nommers lees wanneer hulle die OTM gebruik.

´n Nagemaakte sleutelbord, wat inligting stoor, word soms ook bo-oor die oorspronklike sleutelbord by die OTM geplak. Die inligting word dan later deur die diewe afgelaai. Verbruikers moet dus let op enige iets wat verdag lyk, soos ´n los sleutelbord of los toestelle oor die kaartgleuf en apparate wat uit plek lyk by ´n OTM. Daar was ook al talle gevalle waar korrupte werknemers kaarte gekloon het, nadat niksvermoedende kliënte dit vir betalling aan die werknemers gegee het.

Die Ombudsman vir Bankdienste (OBS) verskaf ook ’n paar nuttige wenke om kaartkloning te voorkom.

Hulle raad aan verbruikers is om kredietkaarte te beskou as kontant en dat dit ten alle tye onder oë gehou moet word. Stap eerder saam met ´n kelner by ´n restaurant om te betaal. Teken ook altyd jou bankkaarte op die agterkant as jy dit ontvang en gaan gereeld bankstate na, aangesien ‘n dispuut net vir ‘n bepaalde tyd aangemeld kan word.

By OTMe moet die PIN-nommer slegs ingesleutel word wanneer die kitsbankskerm daarvoor vra en persone moet verkieslik gebruik maak van kitsbanke in veilige en goedbeligte areas.

Intussen het die man se bank, met betrekking tot sy eis, hom meegedeel om 30 dae te wag vir sy geld. Dit is egter ‘n ope vraag of die man wel al die geld sal terugkry.

Die Zoutpansberger het by ‘n onafhanklike bron verneem dat in gevalle soos dié, waar die man van ‘n buite OTM gebruik gemaak het, banke nie sommer enige verantwoordelikheid sal aanvaar nie. Hierdie tipe kitsbanke word dikwels aan vulstasies uitgekontrakteer en die bank se verantwoordelikheid hou op by die transaksiefooie wat gehef word. Dit is glo die kliënt se eie verantwoordelikheid om seker te maak dat hy/sy by ‘n veilige OTM geld trek.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines