

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 January 2011
Hoërskool Louis Trichardt se 2010 matriekleerlinge spog met die ongelooflike prestasie van 152 onderskeidings na afloop van verlede jaar se senior eksamens. Die uitslae is Donderdag, 6 Januarie bekendgemaak.
“Voorwaar ‘n prestasie, as daar in ag geneem word dat 172 leerlinge die matriekeksamen afgelê het,” het die skool se adjunkhoof, me. Elsa Kriek, Maandag gesê.
Verlede jaar se hoofmeisie, Jorica Grobler, spog met agt onderskeidings wat sy behaal het in Afrikaans, Engels, Wiskunde, Wiskunde 3, Lewensoriëntering, Lewenswetenskap, Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe. Dié slimkop gaan hierdie jaar medies studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
“Ek is nog besig om al my klere te merk en alles staan nog in stapels rond,” het Jorica Maandag vertel oor haar voorbereidings vir die studentelewe. Met haar puik prestasie is Jorica ook een van die top 30 leerders in die Limpopo Provinsie.
Kort op haar hakke is Hÿlke Coetzee en Phathutshedzo Lethole, met sewe onderskeidings elk, en verlede jaar se hoofseun, Sedzani Muswede, met ses onderskeidings. Hÿlke behaal sy sewe A’s in Wiskunde, Wiskunde 3, Lewensoriëntering, Ingenieursgrafika- en ontwerp, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde. Hy is ook die tweede leerder van die skool wat daarin kon slaag om 100% te bepaal vir Wiskunde. Dit is ook dan geen verrassing dat hy op aktuaris besluit het as ´n studierigting nie. “Ek het maar net baie somme gedoen vir oefening,” het ‘n beskeie Hÿlke gesê oor sy prestasie.
Phathutshedzo het haar onderskeidings behaal in Engels, Tshivenda, Wiskunde, Lewensoriëntering, Toegepaste Rekenaartegnologie, Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe.
Sedzani weer het sy A’s behaal in Afrikaans, Wiskunde, Lewensoriëntering, Informasie Tegnologie, Fisiese Wetenskappe en Wiskunde 3. Hy beplan om teen die einde van Januarie meganiese ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. "Dit is ´n moeilike rigting, maar ek sien nogal baie uit daarna," het Sedzani gesê.
Jorica, Hÿlke en Sedzani was al drie van die mening dat hulle nou die vrugte pluk van goeie voorbereiding, baie deursettingsvermoë en ure se leer voor die eksamen. “Dit was harde leerwerk,” het Jorica gesê.
Buiten vir hierdie vier leerlinge is daar nog ‘n verdere agt leerders wat met vier A’s elk spog en tien ander leerders met drie onderskeidings elk. Twintig leerlinge het twee onderskeidings behaal en 22 spog elk met een onderskeiding.
Behalwe die 152 A-simbole wat behaal is, is daar ook 210 B-simbole en 274 C-simbole behaal.
“Dit wys net weer dat harde werk en pligsbesef van beide die leerlinge en onderwysers beloon is,” het Kriek gesê.
Die skool se vreugde is egter ietwat getemper met ´n 97,7% slaagsyfer, maar al kon die skool nie hierdie jaar spog met ´n 100% slaagsyfer nie, bly Hoërskool Louis Trichardt een van die 40 beste skole in die Limpopo Provinsie en is hulle steeds ‘n Klub 50-skool.
“Dit beteken dat meer as 50 leerlinge beide Wiskunde en Fisiese Wetenskappe geslaag het,” het Kriek verduidelik.

ADVERTISEMENT:
