

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 January 2011
Een van Louis Trichardt se bekendste inwoners en op een na die laaste van die oorspronklike stigterslede van die plaaslike Rotariërs op die dorp, mnr. Johan Venter, is op Newcastle oorlede. Hy en sy eggenote het verlede jaar ná hul aftrede daarheen verhuis. Hy is op 2 Januarie vanjaar in die ouderdom van 86 aan hartversaking oorlede.
Wyle Johan is op 11 Julie, 1925 op Bethlehem gebore. Hy het op 4-jarige ouderdom saam met sy ouers na Louis Trichardt gekom. Ná standerd 8 is hy uit die skool op Louis Trihardt en kwalifiseer hy homself as motorwerktuigkundige by General Motors op die dorp. Daarna het hy hom ook as stoorman gekwalifiseer en later opgetree as reisigende verteenwoordiger van Motor & General van Pretoria.
Hy is op 1 Julie 1946 getroud met Virginia van der Merwe.
In 1956 het hy sy eerste sakeonderneming, Venter’s Hardware, op Louis Trichardt begin. Terselfdertyd het hy ook die eiendomsmark betree. In 1984 het hy die hardeware onderneming aan Lempro verkoop en aangegaan met eiendomme tot met sy aftrede in Junie verlede jaar.
Ná sy aftrede het hy en sy eggenote by hul dogter en skoonseun op Newcastle gaan woon.
Benewens sy vele sakebedrywighede was Oom Johan (soos hy gemoedelik bekend gestaan het) ook aan verskeie ander fronte in die gemeenskap aktief. Hy was besonder lief vir sport en was vir jare president van die plaaslike rugbyklub. Hy was stigterslid van die plaaslike Rotariërs en was saam met sy seun Johan (jnr.) indertyd ook die eerste pa en seun kombinasie in die Rotariërs op die dorp.
Hy het ‘n voorliefde gehad vir die buitelewe en die natuur en was deur die jare ‘n gereelde besoeker aan die Kruger Nasionale Park. Hy en Tannie Virgie het dikwels ook uitstappies van die plaaslike woonwaklub meegemaak. Hy was bekend vir die staaltjies uit sy jongdae wat hy om die kampvuur met vriende gedeel het.
Oom Johan was lief vir die wildtuin en het vertel dat hy van 1946 toe hy en tannie Virgie getroud is, nie een jaar oorgeslaan het om wildtuin toe te gaan nie. Die laaste keer wat hy daar was, was in 2008. Dus, vir 62 jaar het hy getrou elke jaar die wildtuin besoek, party jare meer as een keer. Sy liefde vir kamplewe was baie groot en hy en tannie Virgie het vir ´n hele paar jaar met ´n Autovilla op verskeie plekke in die land gaan vakansie hou.
Rugby-kyk op TV saam met vriende was ook een van sy groot voorliefdes. Hy was baie lief vir lees. Bevriende bure sê laat in die aand het die sitkamer se lig nog gebrand waar hy gesit en lees het.
“Almal sal hom onthou met sy wit Datsun Bakkie wat hy vir meer as 30 jaar gery het,” het vriende vandeesweek opgemerk.
‘n Roudiens is vandeesweek (Maandag) vanuit die NG gemeente Louis Trichardt gelei vir een van die dorp se mees veelsydige, bedrywige en geliefde inwoners.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
