ADVERTISEMENT:

 

Die erg-beskadigde voertuig waarin die jong leerlingbestuurder gery het. Hy het teen ‘n boom gebots en dié letterlik ontwortel.

Jongelinge agter stuur rede tot kommer

 

News  Date: 14 January 2011

 

Die probleem van jongmense wat sonder die nodige rybewys of ry-ervaring in Louis Trichardt se strate rondjaag, is besig om ‘n groot kopseer te word.

“Die mannetjies dink nie. Kattekwaad kan maklik strafbare manslag word. Sê nou net hulle ry ‘n kind dood?” was die opmerking van ‘n omstander op die toneel van ‘n ongeluk in ‘n stil residensiële buurt van die Nuwe Uitbreiding op 21 Desember.

Volgens ooggetuies het drie voertuie net na 18:00 teen hoë spoed mekaar gejaag, toe een van die jong bestuurders beheer verloor het oor die VW Golf Velocity waarin hy gery het. Sy voertuig het die pad verlaat en neus eerste met ‘n boom gebots op die hoek van Protea- en Elandstraat. Die boom is deur die impak ontwortel. Sy mede-jaagduiwels het hul makker net daar gelos en weggejaag.Die seun sou later erken hy het slegs ‘n leerlinglisensie.

Op Maandag, 10 Januarie, skaars ‘n straatblok weg van die vorige ongeluk, was daar ‘n tweede, soortgelyke botsing. Dié keer het ‘n jong mannetjie sonder enige rybewys of selfs leerlinglisensie sy ouers se Nissan Hardbody gevat en saam met ‘n paar vriende gaan ry. Weereens, volgens ‘n ooggetuie, het hy teen hoë spoed in Alwynstraat gejaag en beheer verloor oor die voertuig. Die bakkie het met ‘n harde slag teen ‘n lamppaal gebots. Ook sy vriende het hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Na aanleiding van die twee ongelukke het menige bekommerde inwoner die mening uitgespreek dat die tendens toegeskryf kan word aan gebrekkige wetstoepassing.

“Daar gaan niks van kom nie,” het ‘n omstander op die toneel van die eerste ongeluk opgemerk.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto het egter by navraag bevestig dat die polisie sake van roekelose en nalatige bestuur in beide gevalle geopen het. Sy het gesê die dossiere sal na voltooiing, as al die verklarings geneem is, na die hof gestuur word waar die staatsaanklaer sal besluit of daar vervolg moet word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines