ADVERTISEMENT:

 

Water van die Sandrivier, ongeveer 25km van Musina, het Vrydagoggend met tye tot oor die N1 geloop en lyndrade platgestoot. Foto verskaf.

Reënmeters loop oor danksy rekord neerslae

 

News  Date: 21 January 2011

 

Die wydverspreide reën die afgelope naweek het herinner aan die buie tydens die vloede in 2000.

Die meesal warm, droë Musina het in een nag ‘n rekord neerslag gekry wat meer was as die grootste bui in Februarie 2000. Van Vrydagnag (14de) om 22:00 tot Saterdagoggend 09:00 het mnr. Danie Goosen van die plaas Blaauwkop 190mm reën gemeet. Blaauwkop is 25km suid van Musina. Tydens die vloede was die swaarste bui daar 175mm.

“Dit het wyd gereën. My buurman het 180mm gemeet. Van die ander manne het van die nuwerwetse reënmeters wat net 100mm reën kan opvang en hulle meters het almal oorgeloop. Gelukkig het ons van die ou soort meters wat meer reën kan opvang!” het mnr. Goosen gesê.

Die weiding daar lyk baie goed en die boere is baie dankbaar vir die reën.

“Ons het goeie opvolgreën gehad. Met hierdie laaste bui het ons gelukkig nog nie groente op die lande gehad en skade aan die besproeiingsgewasse gekry nie. Ek het gehoor dat die jong katoen in Weipe swaarkry as gevolg van die reën,” het Goosen gesê.

Die water het ook oor die N1 geloop en by plekke die lyndrade platgestoot.

By mnr. Hennie Erwee, sowat 35 km suid van Musina, is die naweek 160mm gemeet.

By Bokmakierie, by die Baobab tolhek, was die bos pragtig, maar die gras “so ‘n bietjie luierig”. Op mnr. Paul Thomas se grond by Bokmakierie het die water 300m wyd geloop met die reën. “Eers was net die bos mooi, maar nou groei die gras met ‘n spoed! Dit is pragtig en die wild is al klaar spekvet!” het mnr. Thomas gesê.

Levubu het vir Januarie alreeds 400mm reën gemeet, teenoor die 230mm vir die hele Desember. Van die 400mm reën, het meer as 200mm die afgelope naweek geval.

“Die grootste neerslag by my was Saterdagoggend, toe ek 95mm gemeet het. Die buie was redelik sterk en vinnig, maar daar was niks wat verspoel of versuip het nie. Daar was nie skade aan enige gewasse nie,” het mnr. Dries Joubert Maandag gesê.

Joubert sê dat as dit so lekker reën, die hael van vroeër die seisoen al weer vergete is. “Die boere kyk vol verwagting vorentoe. Tydens die hael het sekere dele se avokado’s swaar gekry. Daar sal definitief ‘n tekort aan vroeë vrugte, veral avokado’s wees,” het Joubert gesê.

By Louis Trichardt het mnr. Willie Agenbacht al 162mm vir Januarie gemeet. Na ‘n paar droë maande met net katspoegies reën, het daar 81mm in November laasjaar uitgesak en 223mm in Desember. Mnr. Agenbacht, wat al 25 jaar boekhou van die reën op Louis Trichardt, sê dat die naasbeste reënval vir Desember in 1998 en in 2009 was, met 215mm en 202mm onderskeidelik.

“Hierdie jaar gaan waarskynlik ‘n baie goeie reënseisoen wees,” het mnr. Agenbacht gesê. Hy het ook die vloede bestudeer en sê dat daar in 1959 ‘n vloed was, 41 jaar voor die vloed van 2000.

“In 1959 is Wyliespoort baie beskadig en regoor die Ingwe Hotel (net oor die Soutpansberg in die rigting van Musina) het die kloof aan die oostekant van die pad groot verspoelings gehad. Die vloed van 2000 het baie skade aan die infrastruktuur veroorsaak en bome het versuip. Daar is nou ‘n 11 jaar siklus verby en dit is moontlik dat daar weer baie reën kan val. Die effek van El Niño veroorsaak soms droogte en soms reën. In hierdie geval is daar vanjaar baie reën, met oorstromings veral in Brasilië en Australië,” sê Agenbacht.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines