

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 January 2011
Die NG Kerk se Ring van Louis Trichardt sê die sogenaamde Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) is ´n godlose en mensvernietigende ideologie, wat wetteloosheid as ´n nuwe lewensorde skep. Die Ring sê die NDR, soos wat politici in die land se regerende politieke party in uitsprake daarna verwys, se filisofie en optredes is in stryd met die geloof en waardes van die Christelike geloof.
Op ‘n vergadering gehou op 30 November 2010 het die Ring van Louis Trichardt standpunt ingeneem oor die NDR en besluit om hierdie standpunt in die media bekend te stel.
Die Ring sê die konsep van ´n Nasionaal Demokratiese Rewolusie kan, weens sy onderliggende filosofie en praktyk, nie ´n versoeningsproses, of ´n nasiebou-aksie wees nie.
" Die konsep van ´n NDR skep ´n dualistiese regspraktyk – dié van ´n revolusionêre reg, naas en teenoor ´n konstitusionele reg in een samelewing.
"Die filosofie van ’n NDR skep ’n dualistiese staatsorde van ’n staat binne ’n staat. Daarom skep die filosofie van die NDR ´n disfunksionele gemeenskap van oorheersers en onderdruktes: ’n magselite wat met ’n eie reg en orde van ’n binne-staat verhewe bo enige aanspreeklikheid is van die reg en orde van die konstitusie van ’n buite-staat, waaraan almal buiten die magselite onderworpe is.
"Die NDR is nie ’n rewolusie van burgers teen die owerheid nie. Dit is ’n pseudo-rewolusie. Dit is anargie deur die verteenwoordigers van owerheid teen die staat met die voorwendsel dat dit ’n rewolusie deur die burgers van die land is, terwyl dit die omstandighede en klimaat skep vir ’n werklike rewolusie.
"Die NDR se doelwit is die skep van ´n anargistiese regeringstelsel, met die verskuilde motief om die nasionale en privaat bates van die gemeenskap te plunder en die openbare en privaatinstellings wat in die pad van hierdie plundering staan, te vernietig met die magsmiddele van die staat.
"Die NDR is daarom ’n ideologie wat wetteloosheid in ons land as ’n nuwe lewensorde skep.
"Daarom is die NDR die ideologie wat besig is om die staat en openbare gemeenskapsinstellings te kriminaliseer.
" Die NDR se nasionalisering is ´n proses wat net ´n magselite verryk en die middele en instellings waardeur die bevolking hulleself kan ophef, vernietig.
"Die NDR regverdig en bedryf sy dualistiese reg en staatsorde deur die aanhitsing en bedryf van rassisme.
"Die NDR lewer die openbare en privaat bates van die land uit aan internasionale opportunisme en gierigheid en lewer die land daardeur uit aan internasionale kriminaliteit.
"Die NDR verskuil hierdie plundering met anti-rassistiese retoriek, terwyl hulle self Afrika se potensiaal en geleenthede vir sy eie inwoners ten koste van internasionale kapitalistiese uitbuiting vernietig, soos dit in die Mapungubwe tragedie sigbaar is.
"Die NDR is die grootste krag wat Suid Afrika as staat vasvang in ’n proses om ’n mislukte staat te word.
"Die NDR se filosofie en optredes is in stryd met die geloof en waardes van die Christelike geloof.
"Lidmate van Christelike kerke behoort uit hulle geloof in Christus en hulle toewyding aan die wet van die Here in protes en verset teen die NDR te kom.
"Lidmate wat wetend of onwetend hulleself bevoordeel uit die plundering van die NDR, tree teen hulle geloof in Christus en die eise van die Woord van God op.
"Lidmate wat wetend of onwetend hulleself deur die NDR probeer verryk of beveilig, kan nie hulle optrede as Christelike versoening regverdig nie.
"Pogings van die kerk en kerkleiding om die botsing van geloof en waardes met die NDR te passifiseer, ontduik hul profetiese taak as kerk teenoor ’n godlose en mensvernietigende ideologie.
"Aksies waarin die kerk hulleself as medewerkers vir die sosiale frontaksies van die NDR uitgee, maak hulle mede-aanspreeklik vir die opbou van ’n anargistiese tirannie wat die kerk en gemeenskap gaan vernietig.
"Lidmate wat hulle werk, aanstellings, eiendom, kultuur en lewe verloor deur die NDR en die wettelose gemeenskap wat die NDR skep, moet hulle geloof in God stel as Here van die skepping en sy voorsienigheid; hul vreemdelingskap as Christene in hierdie godlose en wettelose wêreld met waardigheid en selfrespek opneem; hul geloof stel in God se beskikkingsmag om die kwaad ons ten goede te keer; Christus vertrou om volharding in die goeie as ´n gawe in ons te skep; die kwaad met vrymoedigheid teen te staan en nie uit moedeloosheid of verbittering hul geloof verloën of hul waardes verloor nie," lui die Ring se verklaring.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
