

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2011
‘n Mislukte roof, ´n gyselaarsdrama en bewerings van moontlike polisiebetrokkenheid vorm deel van die dramatiese gebeure by M Premjee & Son op Louis Trichardt die afgelope naweek.
Volgens mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, het hy Saterdag (22ste) omstreeks 23:00 ‘n oproep ontvang van die eienaars van M Premjee & Son, ‘n bekende groothandelaar op Louis Trichardt, dat daar verdagte persone in die winkel opgemerk is.
Meissenheimer en mede-dorpswaglede het die perseel omsingel om te verhoed dat die verdagtes kon ontsnap, sou hulle nog in die winkel wees. Met hul aankoms het hulle ‘n wag se knuppel voor die winkel opgemerk, maar daar was geen teken van die wag nie.
Kort daarna het hulle ‘n verdagte op die winkel se sinkdak opgemerk. In daardie stadium het lede van die sekuriteitsmaatskappy wat die perseel beveilig het, BVS Sekuriteit, asook die polisie, ook al opgedaag.
‘n Lid van die dorpswag en ‘n lid van die sekuriteitsmaatskappy het op die dak geklouter in ‘n poging om die verdagte vas te trek. Die verdagte het hom egter semi-bewusteloos op die dak geval toe hy probeer ontsnap het en die hulp van die brandweer moes ingeroep word om die man van die dak af te kry. Die man is later per ambulans na die hospitaal geneem vir behandeling.
Te midde van die drama is berig ontvang dat ‘n gyselaarsdrama hom afspeel in die kantore van BVS Sekuriteit, skaars ‘n straatblok weg vanaf M Premjee & Son. Vyf personeellede is kort daarna gevind waar hulle vasgebind op die vloer gelê het. Hulle is vir ‘n geruime tyd aangehou en beroof van twee 9mm-pistole, asook hul selfone en ´n beursie. Die selfone en beursie is later buite die sekuriteitskantoor opgetel.
Dit is duidelik dat die poging tot roof en die gyselaarsdrama by BVS verband hou met mekaar.
Volgens mnr. Hercu Welman van BVS Sekuriteit het ‘n groep verdagtes tussen 19:00 en 20:00 hul nagskof senior in hulle kantoor oorval en vasgebind. In daardie stadium was hy alleen in die kantoor. Een verdagte het daarna met die nagskof senior se sekuriteitsvoertuig na M Premjee & Son gery en een vir een hul wagte gaan oplaai, onder die voorwendsel dat hy ‘n nuwe aanstelling is en dat hy aangesê is om die wagte terug te bring kantoor toe.
Welman sê dit wil blyk asof die verdagtes net na 22:00 doelbewus die alarm geaktiveer het om sodoende ook die reaksielede te oorrompel.
Die reaksielede is na die perseel toe waar hulle, volgens Welman, ingewag is deur twee mans gewapen met ‘n 9mm-pistool en ´n R5-aanvalsgeweer. Die mans, sê Welman, was geklee in polisiebroeke en –stewels en het hulself as polisiebeamptes geïdentifiseer. Die voertuig waarin hulle gery het, was ‘n wit bakkie met ´n blou lig en vier antennas bo-op. Die “polisiemanne” het die twee reaksielede meegedeel dat daar ‘n "insident" was en dat laasgenoemde saam met hulle na die sekuriteitskantoor moes gaan. Intussen het nog twee verdagtes uit die parkie oorkant die winkel gestap gekom en is saam terug na die kantoor.
Meissenheimer sê dit wil voorkom asof die verdagte op die dak waggehou het vir die ander verdagtes, terwyl hulle doenig was met die sekuriteitsmense. Die man op die dak is egter gestrand gelaat met die vinnige reaksie van die dorpswaglede en polisie en die vermoede bestaan dat die ander verdagtes gevlug het toe hulle die dorpswag en polisie op die toneel gesien het.
By nadere ondersoek is gevind dat die booswigte ‘n stuk sinkplaat bokant die ingang van die winkel oopgeforseer het, waarna hulle via die badkamer toegang tot die kompleks gekry het. Niks is egter gesteel nie. Die verdagtes het probeer om die alarmstelsel in die winkel onskadelik te stel, maar het in die proses die brandalarm stukkend geslaan.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag die voorval bevestig en gesê dat die polisie kennis dra van die bewering dat polisiebeamptes moontlik by die voorval betrokke kon wees. Hy het gesê dat ‘n interne ondersoek reeds geloods is, maar teen druktyd was daar geen verdere terugvoer nie.
Intussen het die verdagte wat aangekeer is, die 60-jarige Frans Mabena, Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op klagte van poging tot inbraak. Hy is borg geweier en sy saak is uitgestel na 31 Januarie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
