

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2011
Nog ‘n veearts het homself verlede week aan die verkeerde kant van die gereg bevind, nadat hy in hegtenis geneem is vir die beweerde onthoring van renosters sonder die nodige permitte.
Die 38-jarige dr. André Charles Uys, ‘n wildveearts van Thabazimbi, het verlede Vrydag in die landdroshof op Musina verskyn, kort nadat hy gearresteer is.
Volgens die hoof uitvoerende bestuurder van SANParke, dr. David Mabunda, is Uys gearresteer na ´n ondersoek deur die polisie se spesiale eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke.
Uys het glo gedurende Oktober 2009, 15 renosters van die Maremani natuurreservaat se horings afgehaal, sonder die nodige permitte. Dit is dieselfde plaas wat aan die Deense maatskappy behoort waar mnr. Tom Fourie (51) homself vroeg in November verlede jaar geskiet het. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto, word Uys se saak direk verbind met Fourie en sy vriend, Jacques Els (37), se saak.
Fourie is op 9 September verlede jaar op R5 000 borg vrygelaat, nadat hy in die landdroshof op Musina verskyn het op klagte wat verband gehou het met die onwettige besit en verkoop van tientalle renosterhorings. Els, ‘n wildboer van Thabazimbi, het homself tydens ‘n tweede hofverskyning van Fourie aan die polisie oorgegee en is op R30 000 borg vrygelaat.
Die saak teen Fourie en Els het glo verband gehou met die verkoop van 36 renostherhorings wat klaarblyklik op Maremani van renosters verwyder is. Fourie het na bewering die renosterhorings aan Els verkoop.
Fourie, wat die bestuurder van Maremani was, is deur die Deense eienaars gevra om die plaas voor Desember verlede jaar te verlaat. Op 9 November is hy op ‘n koppie naby sy plaashuis gekry, met ‘n kopwond. Die polisie vermoed geen gemene spel nie.
Uys, wat ‘n praktyk op Thabazimbi het en redelik bekend is in wildkringe, is op R10 00 borg vrygelaat. As deel van sy borgvoorwaardes moes hy sy paspoort indien en moet hy elke Maandag by die Thabazimbi-polisiestasie aanmeld. Hy mag ook nie met staatsgetuies inmeng nie.
Uys se saak is uitgestel tot 18 Maart vir verdere ondersoek, waarna hy weer in die Musina landdroshof sal moet verskyn. Els se verhoor sal Vrydag (28ste) voortduur.
Uys is nie die eerste veearts wat gearresteer is op klagte van die onwettig stroop van renosterhorings nie. Skaars twee weke na Fourie se eerste verskyning in die hof, is twee veeartse van Modimolle, Karel Toet en Manie du Plessis, op soortgelyke aanklagte aangekeer.
Hulle het saam met Dawie Groenewald, eienaar van Out of Africa Adventure en nog agt ander beskuldigdes, waaronder beroepsjagters en ‘n helikoptervlieënier, op 22 September in die hof op Musina verskyn. ‘n Woordvoerder van die Valke, kol. Musa Zondi, het einde verlede jaar bevestig dat die polisie 20 renosterkarkasse op Groenewald se plaas opgegrawe het.
Bewerings dat Fourie en Els se arrestasie en hofverskyning verband gehou het met die arrestasie van Groenewald en sy mede-beskuldigdes is deur ondersoekbeamptes in die saak ontken. Dit kon teen druktyd nie bevestig word of Uys se saak met dié van Groenewald verbind word nie.
Die Groenewald-saak sal op 11 April weer in die hof op Musina dien.

ADVERTISEMENT:
