

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 January 2011
Gerugte het vroeër die week die rondte gedoen dat doelbewuste vergiftiging dalk die oorsaak was daarvan dat talle van die Demokratiese Alliansie (DA) se top provinsiale bestuurslede sedert Vrydag in hospitale opgeneem moes word vir behandeling.
Onder die wat behandeling moes ontvang, was die DA se provinsiale leier, me. Desiree van der Walt, DA- parlementslid Jacques Smalle en DA-kiesafdelingshoof vir Marble Hall, mnr. Mpowele Swathe.
Van der Walt, Smalle, Swathe en verskeie ander DA-lede het begin siek word nadat hulle ‘n vingerete genuttig het tydens ‘n kiesafdelingsfunksie op Marble Hall. Smalle was vir drie dae gehospitaliseer, terwyl Van der Walt behandeling ontvang het in Pretoria en Polokwane. Smalle is Maandag na ‘n spesialis in Tzaneen verwys vir verdere behandeling.
Van der Walt het Dinsdag in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gerugte dat hulle doelbewus vergiftig is as bogpraatjies afgemaak. Sy het gesê dit was bloot ‘n geval van ernstige voedselvergiftiging.
“Sommige paneellede is sieker as ander. Of ons doelbewus vergiftig is – ek twyfel sterk,” het Van der Walt gesê.
Luidens Van der Walt is voedselvergiftiging ‘n algemene verskynsel by politieke byeenkomste.
“Voedselvergiftiging is ‘n alledaagse verskynsel – dit was net erg. Glo my, ek het al voorheen by die opening van die Parlement en die Limpopo Wetgewer ook voedselvergiftiging gekry,” het Van der Walt gesê.
Die doel van Vrydag se funksie op Marble Hall was die verkiesing van ‘n nuwe DA-raadslid, na die afsterwe van die vorige lid. Met hulle aankoms is tee, koffie en toebroodjies, asook ‘n ligte vingerete, bedien.
Die vingerete, wat uit die normale southappies bestaan het, was volgens Van der Walt ‘n “goeie gebaar van ‘n bekende” om kos te bring na die vergadering.
“Ons is nie in ´n taai politieke ‘oorlog’ betrokke nie,” het Van der Walt gesê met betrekking op beweringe dat hulle doelbewus vergiftig is.“Wie op aarde sou doelbewus ‘foutiewe’ kos stuur? Dit was bloot ‘n ongeluk.”
Van der Walt het verder gesê dat die persoon wat die kos verskaf het, daagliks skakel en vra na hul gesondheid. Die persoon het ook klaar met die verskaffers van die snoeperye geskakel en die saak aangemeld.

ADVERTISEMENT:
