

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 February 2011
‘n Man wat daarvan verdink word dat hy sy vriend doodgeslaan het, het verlede Vrydag in die Sekgosese Hof verskyn op ‘n klag van moord.
Dié klag teen die 29-jarige Karel Lotz, wat tans in Polokwane woonagtig is, spruit uit ‘n voorval verlede jaar toe sy huismaat, mnr. Pedro Cisco le Grange (31), in raaiselagtige omstandighede dood aangetref is op sy plaas Platkoppies naby Morebeng (Soekmekaar).
Le Grange se liggaam is in ´n plas bloed op sy kamervloer, oortrek met talle diep snywonde, aangetref. Hy het vermoedelik doodgebloei. Behalwe dat sy kamer rooi was van die bloed, is daar binne en buite die huis ook bloedspore gevind. Langs Le Grange se oorskot was die stukke van ‘n gebreekte teekoppie, ‘n stopverfmes en vermoedelik ‘n tand.
Lotz, wat eers in ‘n later stadium deur die polisie arresteer is, moes ná Le Grange se moord behandeling ontvang vir wonde aan sy gesig. Met sy inhegtenisname het hy glo aan ondersoekbeamptes gesê dat Le Grange selfmoord gepleeg het.
Luidens Lotz het Le Grange op die oggend van 14 Junie verlede jaar sleg gevoel, waarna Lotz vir hom tee gevat en hom aangesê het om in die bed te bly. Hierna het Lotz glo aangegaan met sy take op die plaas. Hy het later weer na die huis teruggekeer om beesdip te kom haal, toe hy Le Grange se bloedstollende gille gehoor het.
Lotz het na bewering ‘n bloeiende Le Grange op sy kamervloer aangetref. Uit vrees dat Le Grange dalk HIV positief was, het Lotz hom na bewering op ‘n kombers na die badkamer gesleep om noodhulp te probeer toepas. Volgens Lotz het hy egter besef dat daar niks is wat nog gedoen kan word vir Le Grange nie, waarop hy na buite gestrompel het om hulp te ontbied. Dit is hier wat Lotz beweer hy homself beseer het, toe hy gestruikel en sy kop teen ‘n klip gestamp het; vandaar die wonde aan sy gesig.
Lotz is tydens sy eerste hofverskyning op 7 September verlede jaar in die Sekgosese hof op R3 500 borg vrygelaat. As deel van sy borgvoorwaardes moes hy ook sy paspoort inhandig.
Tydens Vrydag se hofverskyning is Lotz se borg verleng en sy saak uitgestel tot 27 Mei, terwyl daar gewag word vir die forensiese verslag rondom die bloedspatsels wat op die misdaadtoneel gevind is.

ADVERTISEMENT:
