

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 February 2011
Die lugmagsersant van LMB Makhado wat daarvan beskuldig word dat hy sy 11-jarige stiefdogtertjie seksueel misbruik het, het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.
Hofverrigtinge in die streekshof op Louis Trichardt is Maandag vir etlike ure vertraag toe die man eers ingewillig het tot ‘n pleitooreenkoms met die Staat, maar later van plan verander het. Die Staat het ingewillig tot effektief 15 jaar tronkstraf op al die klagte. Hy sou ook na 10 jaar eers vir parool kon aansoek doen.
Die man het egter besluit om onskuldig te pleit, nadat sy besonderhede halfpad in die register vir seksuele oortreders ingevul is. Die Zoutpansberger het ook vertroulik verneem dat daar verlede week, tydens ´n gevangenis inspeksie, ´n groot aantal slaappille in sy besit gevind is. Alles het daarop gedui dat die man die pille na ontbyt, vóór sy hofsaak, sou drink, moontlik in ´n poging om hofverrigtinge verder te vertraag.
Tydens ´n vroeëre hofverskyning verlede jaar is die man deur streeklanddros Marie Viljoen gewaarsku om sy sokkies op te trek en te sorg dat hy ´n regsverteenwoordiger kry. Die man se saak het vir meer as ´n jaar gesloer soos wat hy van regsverteenwoordigers verander het.
Die 35-jarige man is in November 2009 in hegtenis geneem, nadat hy glo die meisie verkrag het en haar gedwing het orale en anale seks met hom te hê, terwyl hy dit met sy selfoonkamera afgeneem het.
Destyds het die man verskyn op een klag van verkragting, een van seksuele aanranding, een van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n minderjarige en ´n klag van die seksuele vorming van ‘n minderjarige.
Daar is intussen nóg twee klagte van verkragting teen die man gebring, nadat dit aan die lig gekom het dat die foto’s wat hy van die dogtertjie geneem het, op verskillende geleenthede geneem is. Hy het ook eksplisiete foto’s van die meisie en haar geslagsdele geneem. Hy het ook pornografiese beeldmateriaal van waar hy en die dogtertjie se ma gemeenskap met mekaar het, aan die dogtertjie gewys, voordat hy haar na bewering verkrag het.
Tydens Maandag se verrigtinge het die eerste drie getuies vir die Staat voor die hof getuig.
Die eerste getuie, ‘n familielid van die dogtertjie se ma, het getuig dat die ma haar telefonies gekontak het nadat sy op die foto’s afgekom het. Die vrou het verder getuig dat die ma seker was dat dit haar man op die foto’s is, nadat sy sy voet op een van die foto’s uitgeken het. Hierna het die familielid die uitgedrukte foto’s dadelik by die polisie aangemeld omdat sy gevrees het dat die man die foto’s van die rekenaar sou afhaal.
‘n Polisiekaptein verbonde aan die SAPS Makhado se kinderbeskermingseenheid, wat saam met die meisie was tydens die uitwysing op die misdaadtoneel, het ook getuig. Luidens die kaptein se getuienis het die polisie op die gesin se rekenaar beslag gelê, asook die selfoon van die man en ‘n kamera wat aan die ma behoort het, met naakfoto’s van haarself daarop. Die kaptein het ook getuig dat die ma self die foto’s geneem het en dat die kamera nie gebruik was om die dogtertjie af te neem nie.
Die man het deurentyd in ´n boek geskryf en af en toe gebruik gemaak van ´n asmapompie, terwyl al die getuienis gelewer is. Sy saak is uitgestel tot 7 Maart vanjaar, waarna die ma en die dogtertjie na verwagting sal getuig.

ADVERTISEMENT:
