ADVERTISEMENT:

 

Twee Viëtnamese in moeilikheid oor horings

 

News  Date: 04 February 2011

 

Twee Viëtnamese burgers is Saterdag op die Wonderboom Lughawe gearresteer, nadat hulle glo vier renosterhorings uit die land probeer smokkel het, wat volgens gerugte op die plaas van die beweerde renosterstroper, Dawie Groenewald (42), geskiet is.

Die polisie se nasionale woordvoerder, brig. Sally de Beer, het Maandag in ‘n persverklaring bevestig dat die twee, ‘n man en vrou, deur die polisie se spesiale eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke, aangekeer is ná die eenheid inligting oor die jag van die renosters ontvang het.

Luidens die verklaring het die Valke na ´n "sekere plaas in die Musina area" gegaan om seker te maak dat die boer van die plaas in besit was van al die nodige permitte. Al die permitte vir die jag van die renosters is in orde gevind.

Saterdag is Phu Hjien Tran (32) en Hjuiynh Phat Phuong (22) deur die boer se privaathelikopter na die Wonderboom Lughawe vervoer. Onderwyl die twee deur die lughawe terminaal beweeg het, is hulle voorgekeer en deursoek. Vier renosterhorings wat van twee renosters verwyder is, is in hulle besit gevind.

Volgens De Beer was Tran en Phuong onwettig in besit van die horings, omdat omgewingsbestuurswetgewing voorskryf dat ‘n gejagte renoster in die besit van die boer of professionele jagter moet bly. Die wet bepaal dat die boer of jagter die trofee, hetsy die kop en skouers of horing van die renoster moet laat monteer deur ‘n taksidermis, voordat die horing vervoer mag word. Daar was ook geen mikroskyfies in die horings wat in Tran en Phuong se besit gevind is nie.

Tran en Phuong moes ‘n nag in die Pretoria-Noord polisieselle deur bring, voordat hulle Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn het. Tran is op borg van R40 000 vrygelaat. Teen druktyd moes Phuong se borg nog gefinaliseer word.

Gerugte dat die twee renosters afkomstig is van Groenewald se Out of Africa Adventorous Safaris op sy plaas Prachtig naby Musina, kon nie deur brig. De Beer bevestig word nie. “Verdere ondersoek sal die oorsprong van die renosterhorings bekend maak,” het De Beer gesê.

Groenewald en nog tien ander verdagtes, waaronder veeartse, beroepsjagters en ´n helikoptervlieënier, is verlede jaar inhegtenis geneem op klagte wat verband hou met renosterstropery. Hulle saak sal weer op 11 April vanjaar voorkom in die hof op Musina.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines