ADVERTISEMENT:

 

"Vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie ..."

 

News  Date: 27 February 2004

 

LEVUBU – 'n Vergadering van vrywillige verkopers en die Grondeise Kommissie het verlede week hier op chaos uitgeloop, nadat 'n plaaslike leraar, ds. Petrus Kriel, in sy slotgebed gebid het: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."

Die vergadering het Donderdag (19de) in die Levubu gemeenskapsaal plaasgevind en is oorspronklik belê vir samesprekings tussen ongeveer 70 vrywillige verkopers van grond op Levubu, afgevaardigdes van grondeisers en amptenare van die Grondeise Kommissie. Lede van die gemeenskap was skynbaar nie bewus daarvan dat dit 'n geslote vergadering moes wees nie. Sowat 200 mense het die vergadering bygewoon.

Die doel van die vergadering was dat die kommissie voorleggings vir volhoubare produksie aan die vrywillige verkopers kon maak. Die vrywillige verkopers bestaan uit die Laatsgevonden vrywillige verkopers, die Levubu 15 en Groep 23. 'n Paar van die vrywillige verkopers het hulle prokureurs saamgebring om te luister na voorleggings.

'n Omvattende plan is voorgelê waarin die huidige verkoper ongeveer 50% aandeel in die nuwe besigheid verkry, die nuwe eienaar 38% en die werkers 12%. Volgens 'n woordvoerder van die vrywillige verkopers, het mnr. Shakir, 'n direkteur in die Departement van Landbou, gesê dat voorleggings in verband met die naverkoop ooreenkoms net gedagtes is wat oop is vir onderhandeling.

Tydens die vergadering het ds. Kriel van die N.G. Kerk Levubu-gemeente belewe dat "die feite soos die regering dit aan die gemeenskap van Levubu voorgehou het, feite is van sosialisme en kommunisme - geen privaatbesit en die beheer van die produksiemiddele deur die arbeiders, nie die ondernemers nie." Volgens 'n skriftelike verklaring van tien bladsye wat ds. Kriel na afloop van die vergadering die lig laat sien het, was hy geskok en woedend, want "ek sit in 'n vergadering waarin my eie gemeenskap deur die regering gedwing word om te moet onderhandel oor hulle eie besit, asof hulle geen besitreg het op wat hulle wettiglik het nie."

Ds Kriel was ook vervul met hartseer, want "baie van die mense wat ek in die vergadering voor my sien sit het, weet ek in my hart, is stukkend geboer deur droogte en vloede, met kinders om te onderhou, sonder 'n ander heenkome…"

Ds. Kriel het ook geskryf dat die Venda-gemeenskap in "al hulle grypsug en opportunisme" steeds opsien na die Levubu-gemeenskap. Hy het gevoel dat as hy "op die sosialisties en kommunistiese plan vir die uitleen van die grond ... 'n seëngebed gaan doen, sal ek die naam van God misbruik ... Dit was 'n gebed uit my hart waarin ek alles wat ek in die vergadering ervaar, ingesien en beleef het, in een sin teenoor God uitgestort het."

Een van die boere van die Levubuvallei Boerevereniging, wat nie van sy grond afstand gaan doen nie, het die verklaring van ds. Kriel as 'n mooi dokument bestempel. Hulle is verbonde aan die Soutpansberg DLU en bestempel die plan wat die regering voorgelê het, as drakonies. Die persentasie vergoeding wat die regering wil aanbied word as belaglik bestempel, aangesien die boere die bedryfskapitaal en die implemente moet verskaf, asook al die risiko dra. Die woordvoerder sê dat ontmagtiging van grondeienaars nie in Suid-Afrika toegelaat kan word nie, want daarvoor is die landbougrond te kosbaar.

'n Woordvoerder van die vrywillige verkopers het die dokument van ds. Kriel bestempel as vier jaar te laat. Die omstrede gebed is bestempel as iets wat nou die olie uit die ratte van 'n langsame proses kan wegneem. Dit was onnodig in 'n tyd waarin die kommissie "op die punt staan om aan die vrywillige verkopers 'n aanbod te maak vir die verkoop van die grond." Hy het die voorstelle van die Grondeise Kommissie as sosiaal-demokraties beskou en nie as sosialisties-kommunisties nie.

Intussen is 'n komiteevergadering van vrywillige verkopers gehou, waarin die voorgestelde struktuur bespreek is. Grepe is uit die voorstelle geneem en ander voorstelle is ingebring met die oog op toekomstige onderhandeling.

Tydens 'n oop vergadering op Levubu Dinsdagaand het ds. Kriel die standpunte in sy dokument verder bekendgestel. Die dokument bevat ook 'n verskoning dat hy by 'n eiesoortige vergadering inbreuk gemaak het.

Die grondeisekomissaris in Polokwane, mnr. Mokono, het op Woensdag, (25ste) aan mnr. Paul Smit van die Laatsgevondengroep gesê dat hy hom nie steur aan die gebed en die woelinge daaromheen nie. Mnr. Mokono het gesê dat hy voortgaan met sy taak.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines