

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 February 2011
‘n Man van Musina se liefde vir blink klippies het hom duur te staan gekom.
Die 68-jarige Roy Saunders is Maandag in die landdroshof op Musina skuldig bevind op ´n klag van die onwettige handel in ongeslypte diamante. Dit volg nadat hy in November 2007 deur lede van die polisie se Goud- en Diamanttak gearresteer is tydens ´n polisielokval. Die hele transaksie is op ‘n versteekte kamera vasgelê.
´n Informant het die polisie op Saunders se spoor geplaas, waarna Saunders deur ‘n polisieman genader is wat homself as ‘n koper voorgedoen het en nege diamante te koop aangebied het. Niksvermoedend het Saunders die polisieman na sy huis genooi om na die diamante te kyk. Eers is daar gekibbel oor die prys van die diamante, waarna hulle uiteindelik op R30 000 ooreengekom het.
Onderwyl Saunders na sy kamer gegaan het om die kontant te kry om die transaksie te beklink, het die polisieman hom terloops gevra of hy sou belangstel om goud ook te koop, waarop Saunders gesê het hy sal enige edelgesteentes by hulle koop.
Met die oorhandiging van die kontant is Saunders in hegtenis geneem. ´n Groot raaisel bly egter steeds wat Saunders met die nege klippies, ter waarde van sowat R102 000, gedoen het. Na sy arrestasie kon die polisie nie weer die diamante vind nie. Selfs tydens sy verhoor het Saunders geswyg oor waar hy die diamante versteek het.
In sy verweer het Saunders gesê dat hy die toerusting wat tydens sy arrestasie in sy besit gevind is, hoofsaaklik gebruik vir sy voëlboerdery, alhoewel hy ook op klein skaal handel gedryf het in halfedelgesteentes. Die toerusting, wat dui op diamantsmokkel, het ingesluit verskeie vergrootglase en meetinstrumente vir edelgesteentes.
Saunders is na sy skuldigbevinding Dinsdag gevonnis tot ´n boete van R15 000 of vier jaar gevangenisstraf. Die R30 000 wat hy vir die diamante betaal het, is ook verbeurd verklaar aan die Staat. Die Staat het ook aangedui dat hulle die hof gaan vra vir ´n batebeslagleggingsbevel op Saunders se eiendom. Die aansoek sal op 22 Junie voor die hof dien. As die aansoek toegestaan word, sal Saunders se goedere verkoop word om die verlies van die nege diamante te dek.
Dit is nie die eerste keer dat Saunders met die gereg bots nie. In 2005 is die hof op Musina skuldig bevind op ´n klag van die onwettige smokkel van sigarette. In 2006 is hy op soortgelyke klagte ook skuldig bevind in die hof in Polokwane.
Tydens vonnisoplegging Dinsdag, het die magistraat aangedui dat Saunders se hoë ouderdom die enigste rede is waarom hy nie direk tronk toe gestuur is nie.

ADVERTISEMENT:
