ADVERTISEMENT:

 

Beide die skoolhoofde van Louis Trichardt Hoërskool en Laerskool verwelkom die nuwe onderwyskurrikulum 2025. Volgende jaar begin Graad R tot Graad3 en Graad 10 met die nuwe kurrikulum. Beide skole het reeds begin om van die wysigings te implimenteer. Hier vertoon Me. Elzeth Olivier van Laerskool Louis Trichardt een van die nuwe Wiskunde werkboeke.

Nuwe kurrikulum fokus weer op leer

 

News  Date: 25 February 2011

 

Plaaslike skoolhoofde verwelkom die nuwe Kurrikulum 2025 en het reeds begin om sekere van die wysigings te implementeer.

“Die nuwe, herskryfde kurrikulum is positief. Daar is aanpassings op die bestaande kurrikulum gemaak en in die meeste gevalle is daar nou beter strukturering,” sê mnr. Henry Denner, skoolhoof van Hoërskool Louis Trichardt.

Minister Angie Motshekga se aankondiging verlede jaar dat die onderwyskurrikulum gewysig word, is meestal goed ontvang. Dit is die derde keer dat die kurrikulum hersien word sedert die instelling daarvan in 1998. Die uitkoms-gebaseerde onderrigmetode (UGO) het geweldig baie kritiek uitgelok en is uit sommige oorde as die “UGO gemors” bestempel.

Die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) skryf voor watter inhoude vir elke vak vir elke graad behandel moet word, oftewel “wat” behandel word. UGO op sy beurt is ‘n onderrigbenadering, dit wil sê “hoe” die inhoude behandel word. Volgens kenners het die departementele amptenare die “wat’ en die “hoe” so verwar dat UGO verabsoluteer is.

Met die UGO is van leerlinge verwag om self hul inhoudskennis, die “wat”, te skep en te ontdek deur navorsing en deur in groepe saam te werk en dan in staat te wees om wat hulle weet te kan weergee, terwyl die onderwyser bloot as fasiliteerder opgetree het. In die proses het die noodsaaklike fokus op lees-, skryf-, en rekenvaardighede verflou. Die memorisering van inhoud het onnodig en nutteloos geraak.

Ouers wat self skoolgegaan het in ‘n sisteem waar vakinhoud belangrik was en goeie handboeke beskikbaar was, verwelkom die terugbeweeg daarheen. Eksamens word weer geprioritiseer en daar is ‘n groter fokus op die basiese lees-, skryf- en rekenvaardighede.

“In die laerskool was die sprong van Graad 3 na Graad 4 net te groot. In die nuwe kurrikulum word die agt leerareas wat Grade 4 tot 6 doen, verminder na ses vakke. Ons praat nou weer van ‘vakke’. Van Graad 7 af sal daar dan weer agt vakke wees,” sê Denner.

Denner sê dat die beplanning is dat Graad R tot 3 en Graad 10 in 2012 die nuwe kurrikulum sal volg en Graad 4 tot 9 en Graad 11 in 2013. Die eerste groep Graad 12’s sal in 2014 eksamen skryf volgens hierdie stelsel.

Werkboeke en handboeke vir alle vakke is deel van die nuwe rigting in die kurrikulum. Mnr. Louis Linde, hoof van Laerskool Louis Trichardt, verwelkom die terugkeer na handboeke en toetse.

“Dit is baie positief. Die onderwysers gaan weer skoolhou en nie net fasiliteer nie,” sê Linde, wie se skool reeds van die nuwe handboeke en werkboeke implementeer. Me. Elzeth Olivier, wiskunde-onderwyser, sê dat hulle al uit die nuwe wiskunde-werkboek werk en dat dit nog nuttiger gaan wees sodra al die kinders hul eie werkboeke gaan ontvang.

By die hoërskool skryf vanjaar se matrieks alreeds die vak lewenswetenskappe (biologie) volgens die nuwe kurrikulum. “Die vorige lewenswetenskappe se temas het nie logies deurgevloei nie. Nou is dit verbeter. Daar het nie soveel inhoudelik verander nie,” sê Denner.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines