

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 February 2011
Twee kunstenaars van Louis Trichardt het pas gehoor dat hulle skilderye aanvaar is deur gallerye in Duitsland.
Claudi Simon, wyd bekend vir haar Nguni-skilderwerk, en Susaar Schlesinger skilder saam en moedig mekaar aan. Hulle is baie opgewonde daaroor dat die Steinberger Gallery en die Simon Gallery in Munster, Westfalen, hulle skilderye uitstal.
“Mens sien nie geskilderde Afrika-werke in Duitsland nie, slegs afdrukke. Hierdie is baie goeie oorspronklike skilderye,” sê Heinz Schulte, bemarkingsbestuurder van Novo Print in Stuttgart, Munster. Heinz was op besoek by Susaar toe hy op haar en Claudi se Afrika-tema skilderye afkom. Hy het teruggevlieg op 3 Februarie, met 12 skilderye in sy bagasie, ses van Claudi en ses van Susaar.
“Die skilderye wat saam Duitsland toe is, word nou daar uitgestal en die ander fotografeer ons sodat dit van die webwerf af bestel kan word,” vertel Susaar.
Susaar en Claudi ken mekaar al lank en weet hoe belangrik wedersydse inspirasie is. Na ‘n gesinstragedie kon Susaar vir ‘n jaar lank glad nie verf nie. “Jy kan nie langer sit en tob nie. Nou gaan jy ‘n kwas optel en weer verf,” was Claudi se woorde aan haar. Die gewenste effek is verkry en hulle het saam aan ‘n skildery van pampoene begin werk.
Claudi het in Oktober 2006 die nuus gehaal met haar unieke kunsuitstalling Cattle and Clay, wat op die plaas Brom ‘n Nell van die Guillaumes aangebied is. Die uitstalling se groot aantrekkingskrag was die Nguni beeste wat so werklik voorgekom het dat kykers soms gevoel het dat hulle kon sien hoe die bees se oë knip en die stert kwispel. Claudi het vir dié uitstalling 35 skilderye met die Nguni of kleipottema voorberei en die meeste daarvan het verkoop.
Die volgende jaar in Augustus het die immer-produktiewe Claudi ‘n uitstalling van 45 skilderye, met die tema Indigenous Images, aangebied, met baie klem op die inheemse vrou, haar inheemse drag en werkswyse in haar omgewing.
Susaar lê ook graag die Afrika-vrou op doek vas, sommige daarvan realisties en in ryk aardse kleure. Claudi se inheemse uitbeeldings wissel van realisties tot abstrak en surrealisties, met treffende kleurkombinasies. Dié twee kunstenaars, wat met hulle talente woeker, sit in afwagting om die Duitse publiek se reaksie op hulle skilderye te verneem.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
