

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2011
Met die moordsaak van Alexander Smail (63) wat voortsloer, wag die gemeenskap van Buysdorp nog om te hoor wat presies die aand van 17 Desember 2009 gelei het tot die dood van twee jong mans.
Smail het verlede Woensdag weer in die streekhof op Louis Trichardt verskyn op twee aanklagte van moord en twee aanklagte van poging tot moord. Hy word daarvan beskuldig dat hy twee jong mans van die Buys-gemeenskap, Cornelius Bruce Joachim (20) en Sergio Bozario Buys (21) gekonfronteer en daarna koelbloedig doodgeskiet het.
Smail het na bewering vóór die skietery gedreig om Joachim, Buys en nog twee vriende te skiet, omdat hy oortuig daarvan was dat die jong mans by sy onderneming, Smails Fountain, ingebreek het.
Al die mans het glo naby die winkel in ‘n motor gesit toe Smail die dreigemente teen hulle gemaak het, waarna hulle dit dadelik by die polisie aangemeld het.
´n Lid van die polisie was nog besig om die klag in die voorvalleboek aan te teken, toe Smail by die polisiestasie opdaag om sy vuurwapen in te handig en homself oor te gee. Hy is dadelik gearresteer en in die selle geplaas.
Ooggetuies het destyds te kenne gegee dat Smail eers sy vuurwapen by sy huis gaan haal het, voordat hy terug is na sy winkel waar hy die vier mans weer aangetref het en toe net op hulle losgebrand het.
Buys is in die kop getref en Joachim in die bolyf toe hy probeer vlug het. Albei is op die toneel dood. Hulle vriende kon gelukkig daarin slaag om te vlug.
Nuus van die skietvoorval het soos ‘n veldbrand deur die gemeenskap versprei en ontstoke lede het voor die polisiestasie op Buysdorp saamgedrom. Hulle het daarop aangedring dat die polisie Smail vrylaat en geskreeu dat hulle hom sal doodmaak. Ná die polisie egter geweier het, het die oproerige groep mense Smail se motor voor die stasie aan die brand gesteek en ook sy winkel geplunder.
Met Smail se borgaansoek die volgende dag moes polisie weereens ingryp toe lede van die gemeenskap Smail se familie gedreig het nadat hy op R5 000 borg vrygelaat is.
Intussen moes Smail se saak telkens uitgestel word, nadat Smail die hof in kennis gestel het dat hy steeds wag op verskeie sielkundige- en doktersverslae. Hierdie verslae sal glo deur Smail gebruik word om die hof te oortuig dat hy geestelik versteurd is.
Sy saak is Donderdag uitgestel tot 20 en 21 Junie waarna sy verhoor na verwagting sal begin.

ADVERTISEMENT:
