ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Solly Maano, ondervoorsitter van die SBBV, kyk na die rioolrivier in die industriële area net buite Louis Trichardt Abattoir. Lede van die SBBV is op 22 en 24 Februarie vergesel deur amptenare van Waterwese, beide vanaf nasionale en provinsiale vlak, wat na die rioolknelpunte in die dorp kom kyk het.

Senior amptenare kry riooltoer van dorp

 

News  Date: 04 March 2011

 

Amptenare van die Departement Waterwese het twee maal verlede week na veral die rioolknelpunte op Louis Trichardt kom kyk. Hulle is vergesel deur lede van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging.

Vanaf provinsiale vlak het me. Winnie Phuluwa op 22 Februarie die toer na al die grootste rioolprobleme onderneem en twee dae later het vyf amptenare, beide van nasionale en provinsiale vlak dieselfde punte besoek. Watermonsters is geneem by die rioolplaas en by die tenk daarnaby waarheen die boorgate se water gepomp word.

Die watersuiweringswerke en watervoorsiening vorm saam deel van ‘n groot sisteem wat nie van mekaar losgemaak kan word nie. By die tenk het die besoekers gesien hoedat daar slegs een motor by die pomp is. Die bystandsmotor het gebreek en is verwyder om reggemaak te word, maar het na maande nog nie teruggekom nie. Die gevolg is dat, sou die oorblywende motor breek, die water vanaf die boorgate nie na die dorp gepomp sal kan word nie. Die boorgate sorg vir ‘n kwart van die dorp se watervoorsiening. Van die twaalf boorgate is ongeveer ses buite werking, weens gebrek aan effektiewe onderhoud.

Die eerste rioolbesoekpunt was in die industriële area by die sogenaamde “vleipompstasie”, wat nie funksioneer nie. Daar is ‘n nuwe pomphuis gebou wat nooit verder effektief toegerus is nie, klaarblyklik weens nie-betaling van die kontrakteur. In die omgewing is ´n sloot wat gegrawe is met riool gevul.

Die veelbesproke rioolprobleem by Louis Trichardt Abattoir het die wenkbroue laat lig. Die riool borrel onder die muur uit. “Die bestuur van die abattoir doen alles wat hulle moet doen om aan hulle kant die pype reg te hou,” het die nuwe voorsitter van die SBBV, mnr. Chrisjan van den Berg op 28 Februarie gesê.

Die dorp se rioolplaas het jare gelede so goed gefunksioneer dat die water, na suiwering en sonder chlorinering, gedrink kon word. Na jare se druk van belastingbetalers en politici is daar begin met opgradering van die bestaande rioolplaas. Volgens ‘n ingeligte bron is die sowat R7m vir die opgradering nie altyd wyslik spandeer nie. Alle elektriese toerusting, soos motors en pompe, is voor die voet vervang, stukkend of nie. In Julie verlede jaar het die Direkteur Tegnies Dienste, mnr. Thivho Ralulimi, gesê dat die opgradering 40% voltooi is. Die rioolwatersuiweringswerke het egter water nodig om te kan werk. Weens die onvoldoende watervoorsiening na die dorp, kom daar nie genoeg water op die terrein sodat die stelsel na behore kan werk nie. Die droogbeddings se sand moet vervang word en die verouderingsdamme moet skoongemaak word.

Eltivillas se pompstasie was so oorgroei dat dit tussen die plantegroei gesoek moes word. Die pomp loop, maar die riool stroom in die vlei in, 30 meter van boorgate af. Die pompstasie in die industriële area naby die Suid-Afrikaanse Brouery met die groot dam riool in die pad, is ook besoek. Die pompstasie by die maksimum gevangenis was ook op die besigtigingslys. Die pompstasie daar word beter onderhou, hoewel nie sonder probleme nie, weens die groot volumes wat deur die rioolpype beweeg.

Die provinsiale Waterwese amptenaar was geskok oor al die rioolprobleme en het teenoor die SBBV erken dat Louis Trichardt ‘n ernstige probleem het. Die verslae sal aan die SBBV deurgestuur word, is gesê.

Die nuwe rioolwater suiweringswerke is ook bespreek. Dié rioolplaas gaan aangebring word sowat 2km van die bestaande een en wes van die treinspoor. ‘n Moderne geaktiveerde slykproses gaan daar toegepas word. Om die proses suksesvol te bestuur, moet daar 24 uur hoogs gekwalifiseerde en toegewyde personeel aan diens wees. Die SBBV het ‘n probleem daarmee dat die nuwe rioolaanleg naby die dorp se aquasfeer gebou word.

Daar is genoem dat die huidige rioolaanleg ook in die aquasfeer inloop, maar dat daar riete en vleiland is om te help suiwer. Tussen die nuwe rioolaanleg en die boorgate is net doringveld en geen vleiland nie. Wanneer enige rioolaanleg reg bestuur word, is die water wat daar uitkom skoon en nie ‘n bedreiging vir die aquasfeer nie. Die posisie van die rioolaanleg behoort dus nie onder normale omstandighede so ‘n groot rol te speel nie. Die eintlike knelpunt is die effektiewe bestuur van die dorp se watersuiwering en watertoevoer.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines