

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 March 2011
Nóg vyf van Limpopo se renosters is afgemaai vir hulle horings. Vier renosterkarkasse is verlede Vrydag op die plaas Hanley van mnr. Lood Goosen, ‘n bekende plaaslike boer en wildvanger, ontdek.
Goosen, wat ook die eienaar is van Hanley Wildlife Services, se plaas is sowat 30km wes van Musina geleë. Volgens polisie-inligting is die vyfde karkas, dié van ‘n swartrenoster, deur veldwagters op ‘n wildsplaas naby Tolwe ontdek.
Provinsiale polisiewoordvoerder, lt-kol. Ronel Otto, het Maandag gesê die ondersoek na beide voorvalle word kwaai gestrem omdat die karkasse al in ´n gevorderde stadium van ontbinding is.
"Roofdiere wat aan die karkasse gevreet het, het dit onmoontlik gemaak om spore te kry. Alle moontlikhede word egter ondersoek," het Otto gesê.
Goosen het Maandag in ‘n telefoniese onderhoud met die Zoutpansberger gesê die vier witrenosters het deel gevorm van hulle persoonlike teeltrop.
"Ons skat dat die renosterkarkasse so tussen vier en vyf dae oud was," het Goosen gesê.
Volgens Goosen is daar op die gru-vonds afgekom, nadat plaasarbeiders kom vertel het dat hulle aasvoëls op die plaas opgemerk het. ´n Helikopter moes inderhaas ingespan word om te help met die soektog.
Twee van die renosters is naby aan mekaar gekry, terwyl die derde renoster sowat ‘n kilometer verder gekry is. Die vierde renoster is ‘n hele ent verder van die ander gekry.
Volgens Goosen se seun, Lood (jnr.) is die vierde renoster twee keer op die blad geskiet en wil dit voorkom of hy op die vlug geslaan het, vandaar dat die stropers nie sy horings afgekap het nie.
Die vier renosters se waarde kan volgens Goosen snr. op sowat R600 000 geraam word.
Teen druktyd was nog geen arrestasies in verband met beide voorvalle gemaak nie. Die polisie het egter ‘n taakmag aangestel om die saak te ondersoek. DNS-monsters is ook van al vier die karkasse geneem in ‘n poging om die stropers vas te trek.

ADVERTISEMENT:
