ADVERTISEMENT:

 

Superintendent lieg, daar is steeds probleme by hospitaal, sê dokters

 

News  Date: 27 February 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die antwoord van die superintendent van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal dat die probleem rondom die gare vir keisersnitte verlede week al opgelos is, is deur privaatdokters bestempel as 'n blatante leuen.

Gedurende die week en naweek is keisersnitte uitgevoer, waartydens die vereiste chroomgare nie beskikbaar was nie. Dokters het weereens hul eie gare gebruik.

"Dit behoort interessant te wees om te sien hoe die rekening vir die pasiënt uiteengesit gaan word in die geval waar die dokters hul eie gare bring," het 'n privaatdokter die afgelope naweek opgemerk. 'n Houer met tien garings in kos blykbaar meer as R1000.

Dokters sê dat hulle net hulle werk wil doen en nie wil sukkel met basiese voorrade en toerusting by die hospitaal nie. Verlede week was daar ook skynbaar nie 'n kateter in die kraamsaal nie. Na bewering is alle elektiewe operasies (dié wat nie noodoperasies is nie) ook uitgestel tot ná Vrydag, 27 Februarie.

"Hoe moeilik kan dit wees om so 'n klein hospitaal doeltreffend te bestuur?" het een van die dokters uit radeloosheid gevra.

Die superintendent, dr. S. Nemutandani, het Dinsdag die week erken dat die krisis nog nie verby is nie. Hy het verlede week gesê die krisis is opgelos. Dr. Nemutandani het gesê dat bestellings van die hospitaal op Maandag gearriveer het en dat die voorrade genoeg is vir 'n maand. Op 'n vraag wat gebeur as die maand verby is, het dr. Nemutandani geantwoord dat hy hoop dat die departement intussen die probleme sal aanspreek. Hy het gesê dat hy van sy kant af alles binne sy magte doen om druk uit te oefen.

Dr Nemutandani, 'n gekwalifiseerde tandarts, het die publiek en pasiënte die versekering gegee dat die hospitaal die beste doen wat hulle kan met die beperkte voorrade tot hulle beskikking.

Dr. Nelly Manzini, hoof van die Departement van Gesondheid en Welsyn op Polokwane, het verlede Woensdag (18de) gesê dat daar wel 'n oplossing vir die probleem van voorrade is.

"Die bestuur van 'n hospitaal moet toesien dat voorrade betyds bestel word, sodat daar nie 'n tekort ontstaan nie," het sy opgemerk. Die manier van probleemoplossing binne die Departement van Gesondheid en Welsyn skyn te wees die verskuiwing van blaam van hospitaal na verskaffer of van departement na hospitaal.

Intussen moet privaatpasiënte 'n fooi van ongeveer R550 per dag betaal en skynbaar hul eie linne bring.

"Dan is daar die gesiglose en stemlose massa wat twee dae te voet stap of 'n bakkie moet huur om by die hospitaal te kom om hierdie dienslewering te ontvang" was een dokter se kommentaar.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines