

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 March 2011
Die korrupsiesaak teen drie plaaslike regsmanne sal eers later vanjaar hervat word, nadat dit dié week aan die lig gekom het dat twee van die drie se geld opgeraak het.
Senior streekslanddros Ronnie Rambau, streeksaanklaer Estene Willemse en T. E. Lubisi, ‘n prokureur van Musina, word daarvan beskuldig dat hulle glo omkoopgeld aanvaar het om die uitkoms van hofsake te beïnvloed.
Tydens die drie se hofverskyning Maandag in die landdroshof op Musina het beide Rambau en Lubisi se advokate aangedui dat hulle nie verder hulle kliënte gaan teenwoordig of nog instruksies neem, voordat hulle ‘n onderneming van die twee kry dat hulle betaal gaan word nie.
Ná die twee regsverteenwoordigers hierdie standpunt ingeneem het, het Lubisi besluit om homself te verdedig. Rambau, daarenteen, het besluit om op die koste van belastingbetalers aansoek te doen by die Staat vir ‘n prokureur. Sy saak is uitgestel tot 25 Maart om te sien of sy aansoek by die Staatsprokureur suksesvol gaan wees.
Die aanklagte teen die drie hou verband met ‘n voorval in Februarie verlede jaar, toe hulle tydens ‘n polisielokval in hegtenis geneem is. Tydens die lokval is gemerkte geld by Lubisi, Willemse en Rambau gekry, wat deur ‘n polisie-informant betaal is om die uitspraak van sekere sake te beïnvloed.
Al drie het onskuldig gepleit op die aanklagte wat teen hulle gebring is. Die hoofaanklag wat teen hulle gebring is, is vir beweerde korrupsie en sameswering om korrupsie te pleeg.
Intussen het die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verlede Vrydag vier van Rambau se deelsverhore wat hy voor sy arrestasie aangehoor het as magistraat, tersyde gestel en gelas dat dit nou van voor af moet begin. Regter Eberhard Bertelsmann en Roger Claassen het die vier sake, glo een ‘n plaasaanval, ‘n huisbraak en twee gewapende rowe, terugverwys na die streekhof op Louis Trichardt.
Wat betref die aanklagte van korrupsie en sameswering tot moord teen Rambau het die regters gesê dat dit duidelik is dat Rambau nie sy werk as landdros kan hervat tot die klagte teen hom uit die weg geruim is nie.
“Wat ookal die uiteindelike uitspraak, dit is duidelik dat Rambau nie in die voorsienbare toekoms beskikbaar gaan wees om sake aan te hoor nie,” het hulle gesê.
Al word Rambau vrygespreek van al die klagte, kan hy steeds ‘n dissiplinêre verhoor in die gesig staar en uiteindelik uit sy pos verwyder word. Die regters het geargumenteer dat die blote feit dat die klagte teen Rambau van so ‘n ernstige aard is en boonop onversoenbaar is met sy amp, alreeds genoegsame rede is dat hy uit die amp moet tree om die integriteit van die regstelsel op alle vlakke te beskerm.
Die Landdroste Kommissie het verlede jaar aangedui dat Rambau geskors is en alhoewel hy nie op kantoor mag wees nie, ontvang hy steeds sy volle salaris.
Die Zoutpansberger het egter vandeesweek verneem dat Rambau kennis gegee is van sy dissiplinêre verhoor.
Die saak teen al drie is uitgestel na 7 tot 11 April later vanjaar.

ADVERTISEMENT:
