ADVERTISEMENT:

 

Balju lê beslag op Phadziri-busse ná ongelukeis

 

News  Date: 11 March 2011

 

Die wiele is blykbaar besig om, in meer as een opsig, af te kom van die GM Phadziri busdiens.

Dit het vandeesweek aan die lig gekom dat die balju van Louis Trichardt in Februarie vanjaar, per instruksie van die Hooggeregshof in Thohoyandou, altesaam 10 Phadziri-busse opgeskryf het om op ‘n veiling te verkoop. Die busse, ter waarde van sowat R300 000, gaan verkoop word nadat GM Phadziri glo versuim het om ‘n eis wat teen die busdiens ingestel is, te betaal.

Volgens ‘n eis wat verlede jaar deur die Hooggeregshof toegestaan is, is GM Phadziri verplig om R250 000 aan mnr. Edican Rudzani Ramoba te betaal. Ramoba was een van die gelukkige passsiers wat ses jaar gelede die tragiese busongeluk by Muraleni, waarin 10 mense gesterf het, te oorleef.

Die ongeluk het plaasgevind toe die bestuurder van die oorlaaide Phadziri-bus versuim het om by ‘n spoorwegkruising te stop. ‘n Goederetrein het teen die agterkant van die bus gebots en talle op slag gedood. Van die ander passasiers het later in die hospitaal aan hulle wonde beswyk.

Volgens Ramoba se prokureur, mnr. Jaco Venter, het hy die eis teen Phadziri ingestel en nie teen ´n versekeringsmaatskappy nie, aangesien daar geen verskering was op die Phadziri-bus wat in die ongeluk betrokke was nie.

Nadat die eis toegestaan is, was Phadziri veronderstel om die R250 000 aan Ramoba in maandelikse paaiemente van R41 000 af te betaal. Die eerste paaiement was reeds op 7 Desember van verlede jaar betaalbaar. Tot op hede het Ramoba nog nie ´n sent ontvang nie en is hy geen ander keuse gelaat as om weer die hof se hulp in te roep en ‘n beslagleggingsbevel te kry nie.

Volgens verskeie plaaslike prokureurs is Ramoba se eis nie die enigste van sy soort nie. Die Zoutpansberger het verneem dat daar nog ten minste ses eise teen die maatskappy ingestel is. Venter het ook bevestig dat ‘n ander kliënt se eis van R1,8 miljoen toegestaan is.

Een prokureur, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het aan die koerant bevestig dat hy tans vyf kliënte se eise namens hulle hanteer. Hy het aangedui dat daar in twee van die gevalle ‘n skikkingsooreenkoms met Phadziri bereik is, maar dat hulle nog steeds wag vir betaling. Saam beloop die twee eise glo R500 000. Die ander drie sake, het die prokureur gesê, is nog nie afgehandel nie.

Hierdie is nie die eerste keer dat beweerde swak diens van die Phadziri-busmaatskappy die koerant haal nie. Verlede jaar het die maatskappy onder skoot gekom nadat ‘n bus wat passasiers vervoer het, onverklaarbaar aan die brand geraak het. ‘n Maand voor dié voorval is 47 passasiers beseer toe die bus waarin hulle gereis het se remstelsel onklaar geraak het. In Januarie vanjaar het die Zoutpansberger se susterkoerant, die Limpopo Mirror, berig oor nog ‘n Phadziri-bus waarvan die agterste as uitgeval het, terwyl die bus onderweg was met passasiers.

Volgens die besturende direkteur van Phadziri, mnr. Johan Phadziri, is die storie aangaande Ramoba se eis nie waar nie. Hy het by navraag aan die koerant gesê die eksekusieveiling maak geen sin vir hom nie en het alle verdere navrae na sy advokaat, mnr. Maele Mushasha, verwys. Ook die advokaat was verras ná die koerant hom verwittig het van die opkomende veiling, wat reeds geadverteer is. Hy het egter bevestig dat hy bewus is van Ramoba se eis.

“Ons sal toesien dat die veiling nie voltrek word nie. As dit die geval is, sal ons ‘n aansoek by die Hooggeregshof indien om die beslagleggingsbevel op te skort,” het Mushasha gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines