

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 March 2011
Meer as ‘n jaar later moes ‘n moeder weer die ou wonde oopkrap en die skokdag herleef toe sy vir die eerste keer uitgevind het dat haar 11-jarige dogtertjie moontlik seksueel gemolesteer en selfs verkrag is.
Die moeder van die dogtertjie het Maandag in die streekhof op Louis Trichardt vir die Staat teen haar man, die dogter se stiefpa, getuig.
Die 35-jarige man is in November 2009 in hegtenis geneem, nadat hy glo die meisie verkrag het en haar gedwing het om orale en anale seks met hom te hê, terwyl hy dit met sy selfoonkamera afgeneem het.
Hy het na bewering ook pornografiese materiaal aan die meisie gewys vóór hy haar verkrag het.
Die stiefpa staan tereg op drie klagte van verkragting, een van seksuele aanranding, een van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n minderjarige en ´n klag van die seksuele vorming van ‘n minderjarige.
Tydens haar getuienis het die ma vertel van die dag toe sy pornografiese foto’s van haar dogtertjie op die gesin se rekenaar ontdek het.
“Die foto’s het my geskok ... ek probeer onthou wat ek gesien het, maar al wat ek weet is dat dit my kind op die foto’s was,” het die ma getuig toe sy weer na die afgryslike foto’s van haar meisiekind moes kyk. “Dit is foto’s wat geen ouer of ma wil sien nie,” het sy opgemerk.
Tydens ‘n vorige hofverskyning het ‘n polisiekaptein van die polisie se kubermisdaad-eenheid getuig dat die foto’s van die dogtertjie op die man se selfoon asook op die gesin se rekenaar gekry is. Die ma kon haar dogter op die foto´s identifiseer, maar sy kon nie met sekerheid sê wie die persoon is wat haar kind molesteer nie.
Voordat die man in hegtenis geneem is, het die ma getuig, het sy hom gekonfronteer en gevra of dit hy op die foto’s is. Die man het egter al die aantygings teen hom ontken en glo vir die vrou gesê dat hy nie kan onthou dat dit hy was wat die misdrywe gepleeg het of dat hy die foto’s geneem en op die rekenaar afgelaai het nie.
Ná die ma se getuienis het die man deur middel van sy regadviseur aangedui dat hy nooit die misdrywe, wat betref die drie klagte van verkragting, gepleeg het nie en weereens probeer om ‘n borgaansoek te bring, aangesien sy saak te lank sloer. “Ek is bewus daarvan dat my kliënt al vir meer as ‘n jaar in aanhouding is en is van mening dat hy onskuldig is totdat hierdie hof hom skuldig kan bewys,” het die man se advokaat gesê.
“Daar is moordenaars en selfs reeksverkragters wat vrouens vermoor wat uit is op borg. My kliënt het aangedui dat hy in Pretoria verblyf gekry het tot sy hofsaak afgehandel word en dat hy hom aan enige borgwoorwaardes wat die hof mag voorskryf, sal onderwerp. My kliënt het die reg op ‘n spoedige en regverdige verhoor,” het die advokaat verder gesê.
Die hof het egter weer die stiefpa se aansoek afgekeur en die man en sy regsverteenwoordiger daarop gewys dat die hof nie verantwoordelik gehou kan word omdat die saak voortsleep nie. Streekslanddros Marie Viljoen het die man ook daaraan herinner hoeveel keer die saak al uitgestel is, omdat hy gereeld van regsverteenwoordiger verander en in ‘n stadium ook daarop aangedring het om vir sielkundige evaluasie gestuur te word.
“’n Borgaansoek kan net oorweeg word in uitsonderlike gevalle,” het landdros Viljoen in haar beslissing gesê.
Die man se saak is uitgestel tot 13 en 14 April, wanneer die dogtertjie sal kom getuig. Intussen bly hy in aanhouding.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
