ADVERTISEMENT:

 

Die inhoud van Malvern Trust Home se kiskamer in Zimbabwe. Die vreemde inhoud is ´n buitengewone geskenk van ´n boer en bring gemoedsrus vir inwoners. Foto verskaf.

Doodskiskamer ´n vertroosting vir Zim-bejaardes

 

News  Date: 18 March 2011

 

By die Malvern Trust Home, ‘n tehuis vir bejaardes op Mvurwi in Zimbabwe, is daar ‘n spesiale doodskiskamer.

Dié vertrek, wat vir die oningeligte besoeker as ietwat makaber kan voorkom, is ‘n welkome en groot vertroosting vir die inwoners. Die dag wanneer hulle by die tuiste aankom, word hul mate geneem en ‘n persoonlike kis op maat vervaardig deur ‘n boer, wat dit as sy spesiale bydrae tot die bejaardes se gemoedsrus lewer. Die kis, met die betrokkene se naam daarop, word in die kamer geberg, totdat dit benodig word.

Digby die tehuis is ‘n stukkie grond deur die boer afgekamp as begraafplaas.

Die inwonende matrone hanteer die begrafnisse en kennisgewing aan familie en vriende. “Dis ons begrafnisskema,” skerts die inwoners. Die gratis kis spaar hulle die koste en die bekommernis in omstandighede waarin begrafnisondernemings òf heeltemal onbeskikbaar òf heeltemal onbekostigbaar is.

Die Malvern Trust Home is een van die talle hawens vir verwaarloosde bejaardes wat ingesluit is in die sesweeklikse noodritte met lewensmiddelle vanuit Suid-Arika deur die Zimbabwe Pensioner Supporters Fund, onder leiding van die broers Attie en Hannes Botha. Van die instellings trek toenemend noustrop en by sommiges moes die afdeling vir verswakte bejaardes weens koste-oorwegings gesluit word.

Pastoor Attie Botha en sy broer Hannes is etlike jare gelede reeds aangegryp deur die buitengewone nood van bejaardes wat in Zimbabwe hul eiendom, pensioene en lewensmiddele verloor het as gevolg van die chaos waarin die land verval het. Met behulp van skenkings en voorrade, wat landwyd ingesamel en op Malelane verpak word, word tans elke ses weke noodvoorrade met spesiaal-toegeruste vragmotors in goed-georganiseerde noodritte by bejaardes in alle dele van Zimbabwe afgelewer. Hulle lewer ook noodsaaklike hulp aan boere en hul gesinne wat al hul besittings verloor het in die plaasonteieningsveldtogte van die Mugabe regime.

Die eerste noodrit van die jaar is reeds afgehandel en die volgende rit vertrek in April.

Die Bothas is beskikbaar om kort visuele inligtingsprogramme aan te bied in gemeentes wat belangstel in dié besonderse, volgehoue uitreikwerk.

Hulle kan per e-pos bereik word by [email protected] of by [email protected]

Pastoor Attie Botha se selfoonnommer is 082 901 2291.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines