

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 March 2011
Waterloos, taai, stowwerig, sweterig en dors ... So het sommige inwoners van Louis Trichardt gaan slaap tydens die totale waterkort wat die dorp verlede week getref het.
Die Nuwe Uitbreiding, waar onderbroke watervoorsiening al gedweë aanvaar word, het dit sleg getref. ‘n Pensionaris wat in Impalastraat woon het gesê dat die bietjie water wat hulle normaalweg het, heeltemal weg was.
“Dinsdag, 8 Maart, was ons water al af, met ‘n flou straaltjie teen skemer. Woensdag was dit dieselfde storie, maar van Donderdag was daar absoluut niks. Ons kan net mooi niks doen sonder water nie,” het me. Magdalene Liebenberg Vrydag gesê. Sy versorg ook haar vader, wat al meer as negentig is.
In die dorp wes van die N1, het die totale gebrek aan water mense baie verontrief. By Steven Bothasingel was daar sedert Dinsdag geen water nie. Mnr. Anton Pretorius sê dat sy watertenk, wat nie onlangs gekoppel was nie, vinnig leeggeloop het.
Die Demokratiese Alliansie sê dat hulle oneindig oproepe van ontstelde inwoners ontvang het.
“Die dorp was vyf dae sonder water en die Nuwe Uitbreiding twee dae. Die haglike omstandighede waaronder ons moet lewe, is te wyte aan normale instandhouding wat net nie gedoen kan word nie. Die boorgate se pompe is gebreek,” het DA-raadslid Brian du Plooy gesê.
Die Makhado Munisipaliteit het Donderdag, 10 Maart, aan die media bevestig dat daar ‘n tekort aan water in Louis Trichardt en omliggende gebiede ondervind word.
“Dit is te wyte aan ‘n tegniese probleem wat ons tans in die gesig staar. Mobiele tenkers voorsien water aan die geaffekteerde areas en tenks sal op strategiese plekke geplaas words. Intussen werk ons tegnici aan die probleem, wat moontlik gou opgelos kan word. Ons vra dat die inwoners verdraagsaamheid teenoor die Munisipaliteit sal betoon vir enige ongerief wat mag voortspruit uit hierdie onverwagte tekort aan water,” het die persverklaring gelui, geteken deur die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi.
Die “strategies punte” met mobiele tenkers het klaarblyklik nie heeltemal gerealiseer nie. ‘n Pensioenaris met vier afhanklikes het Vrydagaand na al die gewone strategiese punte by winkelsentrums gery in ‘n desperate soektog na water. Hy het ‘n polisievangwa voorgekeer en gevra of hulle tydens hulle ritte op die noodvoorraad watervoorsiening afgekom het, maar hulle het niks gewaar nie.
“Ek het na die na-uurse verkeersafdeling in Eltivillas gery. ‘n Beampte daar het gelag toe ek navraag gedoen het oor die mobiele tenkers en gemeen dat die woordvoerder seker gejok het om die mense te paai. Ek het my laaste petrol uitgery agter ‘n dowwe belofte aan,” vertel die pensioenaris. Na hy die prys van gebottelde water vasgestel het, het almal in die huishouding maar net so gaan slaap.
Na aanleiding van Bobodi se antwoord oor waar die strategiese punte geleë was, kan afgelei word dat daar nie vaste punte was nie. “Ons het mobiele tenkers gebruik en ons trokke het deur die dorp en residensiële areas beweeg om water te voorsien. Die situasie is terug na normaal,” het Bobodi Maandag gesê en volgehou dat die tenkers in “al die strate” was. Tot dusver kon daar niemand opgespoor word wat water by tenks ontvang het nie.
“Ek werk en staan nie in die strate om te kyk wanneer ‘n tenk eendag verbykom nie,” het een inwoner opgemerk. “Ek het ‘n watertenk opgemerk wat water opvul by die brandkraan in Munnikstraat, maar ek is nie bewus daarvan of enige iemand by die tenk water ontvang het nie,” het ds. Gail Blunden gesê. Selfs nadat die situasie op Maandag as “terug na normaal” beskryf is, het ‘n inwoner van Krugerstraat gesê dat daar Maandagmiddag steeds nie water was nie.
Hoewel die munisipaliteit die afgelope waterkrisis as ´n “onverwagte tekort aan water” bestempel, is inwoners opreg bekommerd oor die watersituasie.
“Ons beweeg naby die rooi lyn. Met die breek van pompe word die reservoirs net nie vol nie. Ons het nie reserwes nie,” was een inwoner se kommentaar.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
