

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 March 2011
Taaier as kakiebos is die viertal honde wat weer ‘n keer misdadigers geflous het en vergiftiging oorleef het.
“Die veearts kan nie glo dat die honde ‘n tweede vergiftigingspoging oorleef het nie,” sê hul eienaar, me. Verna Smith van Louis Trichardt.
Verlede jaar in Desember het iemand probeer om hul Doberman te vergiftig, nadat die honde minstens drie inbraakpogings afgeweer het by hul woning in Wolmaransstraat. Hierdie jaar is die vier “pavement specials” twee maal vergiftig.
Die eerste vergiftigingspoging het plaasgevind in die nag van 23 Februarie. Dié keer was dit maklik vir die misdadigers, want die elektrisiteit van die woning is onwettig deur die Makhado Munisipaliteit afgeskakel en die straatlamp het ook nie gewerk nie.
Na die eerste geveg om die vier honde se lewens te red, het die Smiths hul eindelose en onsuksesvolle stryd om hul rekeningprobleme by die munisipaliteit uit te sorteer, ´n stap verder geneem en ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar.
Me. Verna Smith sê dat, nadat die krag vir ‘n hele dag en nag afgeskakel was, die honde vreemd begin optree het. Me. Ria du Plessis, wat ook daar inwoon, het vroeg die oggend van 24 Februarie gesien dat Jinx, die ouer reun, skuim om sy bek het en sy het hom veearts toe geneem. Gou het Verna besef dat die ander drie honde ook simptome van diarree en braking toon. “Skuim en slym het uit hulle bekke geloop en hulle was onvas op hulle voete. Al vier honde is deur die veearts behandel. Dr.Nada de Villiers het hulle vir Aldicarb (Temek) vergiftiging behandel en kon hulle gelukkig deurhaaal, hoewel dit seldsaam is dat honde so ´n vergiftiging oorleef,” sê Verna.
Twee weke later het die scenario homself herhaal. Vroeg die oggend van 12 Maart was daar weer simptome van vergiftiging by die honde. Rottegif is dié keer vermoedelik gebruik. Hierdie keer was die krag weliswaar nie af nie, net die water. Weer is vinnig opgetree en die geveg om die vier honde se lewens is gewen. Teen Saterdagaand het die honde nog aggressief en onvoorspelbaar opgetree.
Intussen veg Verna se pa, mnr. Herman Smith, al lank en onverpoosd voort om die afskakeling van die krag en die foute op die rekening van die Wolmaransstraat eiendom reg te kry. Hierdie eiendom is in Julie 2008 geregistreer in die naam van JHE Smith en A. Smith. Die normale diensdeposito is betaal. Vir maande lank is daar twee rekeninge uitgereik vir dieselfde adres, een aan die vorige eienaar en een aan die nuwe eienaar. Briewe, besoeke en telefoonoproepe het gevolg. Mnr. Smith het ‘n gekonsolideerde rekening versoek om hom in staat te stel om die korrekte bedrag elke maand te betaal, maar sonder sukses. Hierdie jaar is ingelui deur verdere telefoniese versoeke en ‘n brief aan die munisipaliteit, gedateer 5 Januarie.
“Tydens een van my onlangse besoeke aan die toonbank het ‘n dame my verseker dat ‘soos ons hier staan, die korrekte veranderinge aangebring word’. Tot my verbasing het ons daarna twee aparte rekeninge ontvang, hierdie keer een geadresseer aan JHE Smith en ‘n tweede een gesamentlik geadresseer aan JHE Smith en A Smith, beide vir dieselfde adres,” het Smith gesê .
‘n Brief aan die munisipale bestuurder, gedateer 1 Februarie, het gevolg, tesame met ‘n besoek aan die amptenaar wat daarmee werk. Dié het belowe om Smith te kontak.
Op 23 Februarie, toe die krag afgesny is, het Smith weer persoonlik na die amptenaar gegaan en hom ook ‘n paar maal deur die dag geskakel. “Hy het geweier om die elektrisiteit aan te skakel en gesê dat dit ‘n ingewikkelde saak is. Toe ek weer teen 16:20 skakel, het hy gesê dat die mense wat die krag aanskakel, reeds weg is [huis toe]. Daardie aand het iemand die donkerte gebruik om die honde te vergiftig,” het Smith gesê .
Smith het op 27 Februarie ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar.
“Volgens die nasionale elektrisiteitsreguleerder, NERSA, is ‘n munisipaliteit nie toegelaat om elektrisiteitsvoorsiening te onderbreek indien die elektrisiteitskomponent ten volle betaal is nie,” sê Smith.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
