ADVERTISEMENT:

 

Lang grasse op die pad tussen Vivo en Louis Trichardt versper die uitsig en kan lewensgevaarlik wees.

Pad ´n ongeluk wat wag om te gebeur

 

News  Date: 18 March 2011

 

Die pad tussen Vivo en Louis Trichardt, bekend as die R522, kan lewensgevaarlik wees met die lang grasse wat die uitsig om draaie versper.

Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (SDLU), het sy kommer uitgespreek oor die pad wat glo ´n "ongeluk is wat wag om te gebeur.” Na aanleiding van die sigbare remmerke op die pad, het verskeie motoriste glo reeds ongelukke vermy deur ‘n noodstop uit te voer.

Me. Retha Jordaan, wat sowat 22km buite Louis Trichardt op die Vivo pad woon, se maag trek op ‘n knop elke dag as sy die pad ry.

“Presies ‘n jaar gelede, toe die gras net so hoog en gevaarlik was, was ek in ‘n ongeluk betrokke. Ek was die oggend op pad na Louis Trichardt en die aankomende voertuig, wat my weens die lang gras seker nie gesien het nie, het die draai gesny. Om ‘n kop-aan-kop botsing te vermy, het ek uitgeswaai. Met die terugbring, het die voertuig begin tol en van ‘n wal af geskiet. Gelukkig was ek alleen in die motor. Buiten die R120 000 skade aan die voertuig, loop ek vandag nog met ‘n rugbesering wat ek daar opgedoen het. Die ander voertuig het net weggery,” vertel me. Jordaan.

Die teenwoordigheid van diere langs en in die pad skep ook ‘n groot gevaar. Na berig word, was me. Karen Dewsnap van Vivo einde verlede jaar in ‘n ernstige motorongeluk betrokke weens ‘n trop beeste in die pad. Daar was ook kinders in die voertuig.

“Daar is tans permanent beeste, bokke en donkies aanwesig in die padreserwes sowel as die pad self. Om hierdie saak verder te versleg, is die padreserwes toegegroei met bosse en bome en maak dit dus die sigbaarheid van gevare baie moeilik vir enige padverbruiker. Ons grootste kommer is vanaf die Mara polisiestasie tot by Louis Trichardt, hoewel die res van die pad ook aandag benodig,” was mnr. Japie van der Goot, voorsitter van die Bo Brak Boerevereniging, se reaksie in ´n brief aan die SDLU

Die brief het gelui dat ‘n plaaslike inwoner, wat die pad dikwels gebruik, aangedui het dat hy bereid is om die Departement van Vervoer te help om die padreserwe skoon te maak en dat die Departement met die versoek genader is. Die SDLU versoek dat die Departement van Vervoer dringend aandag aan die pad moet gee om lewensverlies en skade aan eiendom te verhoed.

Intussen het mnr. Barries Grobler die gras op die padreserwes van gedeeltes van die pad met behulp van ‘n trekker en wentelsnyer begin sny. “Hy het weerskante van die pad gesny, vanaf Grootklip, sowat 22km buite die dorp, tot by dr. Labuschagne se plaas. Dis seker meer as 10km,” het Grobler se moeder, me. Trema Grobler, op 15 Maart gesê. Sy is besorg daaroor dat die paaiedepartement nie meer die paaie so mooi onderhou soos vroeër jare nie en dat die werk so stadig geskied.

Jordaan sê dat die gedeeltes wat gesny is ‘n groot verskil maak, maar dat die pad as geheel steeds ‘n groot gevaar inhou. Dit hinder Jordaan ook dat die nuwe naamborde wat die R522 verkeerdelik as die R578 aandui, steeds saam met die ou, korrekte borde verskyn.

“Verder is naamborde en belangrike padtekens op verskeie plekke so oorgroei dat hulle onsigbaar is,” sê Jordaan.

Die landbou-unie het motoriste gewaarsku om baie versigtig op die pad te bestuur.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines