ADVERTISEMENT:

 

Die lapa wat aan Dr Tigere behoort.

Vuiste klap by dokter se lapa

 

News  Date: 25 March 2011

 

‘n Bekende dokter van Louis Trichardt en twee jong mans het verlede week in die landdroshof hier verskyn op klagte van aanranding, ná ‘n woordewisseling ontaard het in ‘n vuisgeveg.

Dr. Patrick Tigere, ‘n bekende plaaslike ginekoloog, beweer hy is Sondagoggend, 13 Maart erg aangerand deur twee mans wat sy eiendom onwettig betree het. Hy beweer verder dat die polisie geweier het om ‘n klag te open ná die aanranding.

Tigere en die twee mans, Nicolaas van der Westhuizen (25) en Joe de Klerk (20), het verlede Donderdag almal op aanrandingsklagte in die hof verskyn. Volgens Tigere het die vuisgeveg uitgebreek ná hy Van der Westhuizen, De Klerk en hulle vriendinne gevra het om sy lapa in Leopard Singel te verlaat.

“Ek ervaar groot las met vandalisme by die lapa en mense wat die lapa misbruik,” het Tigere ná sy hofverskyning aan die Zoutpansberger gesê. “Sowat drie naweke gelede het iemand probeer om die lapa af te brand,” sê Tigere. Die lapa is deur Tigere en sy vrou, Caroline, opgerig vir hul ontspanning.

“Ons het al borde opgesit om aan te dui dat dit private eiendom is, maar die borde word telkens verwyder,” het Tigere gesê. Hy het derhalwe een van die bure se bouers gevra om ‘n ogie te hou oor die lapa en hom te skakel as daar iemand op sy eiendom kom.

Vroeg die betrokke oggend is Tigere ingelig dat daar betreders was en het hy op Van der Westhuizen-hulle afgekom. Die bouer het Van der Westhuizen glo daarop gewys dat dit private eiendom is.

Volgens Tigere het die vuishoue begin val toe hy en twee van sy neefs, Temba Chakamanga en Tendia Kavhu, en sy vrou by die lapa opgedaag het en Van der Westhuizen-hulle gevra het om te loop. Vóór dit het Caroline die plaaslike polisie geskakel, omdat Van der Westhuizen-hulle glo “begin moeilik raak het en geweier het om te loop.”

Van der Westhuizen het na bewering vir Chakamanga ‘n opstopper in die gesig gegee, vertel Tigere. “Temba wou weet hoekom hulle nie wil loop nie en toe takel Van der Westhuizen hom,” sê Tigere. Tigere meen hy is bygedam toe hy tussenbeide probeer tree het.

Tigere sê Caroline het twee keer die polisie geskakel, maar niemand het uitgekom nie. Hy is toe self polisiestasie toe om die voorval te rapporteer. “Hulle [polisie] het vir ons gesê hulle kan nie ‘n saak van betreding oopmaak nie, want betreders moet op die toneel gevang word,” sê Caroline.

Die polisie wou glo ook nie ‘n dossier open nie en het net Tigere se verklaring afgeneem. Selfs nie eens toe hulle Maandag en Dinsdag weer saam met Chakamanga polisiestasie toe is, kon hulle ‘n saaknommer kry nie.

Verlede Woensdag het speurders by die Tigere-egpaar se huis besoek afgelê en gevra dat hulle Donderdagoggend papiere moet kom teken by die stasie. Tigere het gesê dit is reg, so lank dit nie te lank vat nie, want hy het pasiënte wat geskeduleer is vir operasies.

Donderdagoggend is Tigere, Chakamanga, Van der Westhuizen en De Klerk summier by die stasie gearresteer, in ‘n vangwa gegooi en in die polisieselle opgesluit. Later die oggend het hulle in die hof verskyn.

“Ek het vir hulle gevra ‘wat van my pasiënte?’, maar die speurder het net geskreeu ‘Ek gee nie om nie! Ek is die baas hier en ek sê gooi hulle in die selle´,” sê Tigere. “My gebreekte ribbes was niks teenoor die sielkundige pyn en vernedering wat ek in die selle moes verduur nie. Laat ek jou sê, daai plek is vieslik,” sê hy.

Volgens Van der Westhuizen het dinge egter heelwat anders afgeloop. Hy sê dat hy saam met sy verloofde, haar suster en De Klerk besluit het om ‘n piekniek te hou by die lapa.

“Ons het al voorheen gehoor dat mense daarheen gaan om foto’s te neem of om saam met hul vriende daar rustig te sit en kuier,” het Van der Westhuizen hierdie week per e-pos aan die koerant gesê. Hy sê sy verloofde se suster het pas van Amerika teruggekom en wou graag ‘n Afrika-sonsopkoms sien. Dit is hoekom hulle so vroeg daar was.

Van der Westhuizen sê Tigere het omstreeks 05:30 saam met sy vrou en twee ander mans, wat hy beweer het sy veiligheidswagte is, daar opgedaag en hulle gevra om te loop. “Ons het vir Tigere gesê dat ons nie geweet het dat die plek private eiendom is nie, omdat daar geen bordjies of afbakenings op die perseel was nie.”

Hierna het Caroline glo, volgens Van der Westhuizen, op sy verloofde begin skreeu en hulle daarvan beskuldig dat dit hulle was wat die lapa aan die brand gesteek het. “Sy het vir haar [die verloofde] gesê dat sy stupid is, waarop ek na haar gestap het en gevra het om te bedaar, want ons wil net ons piekniekmandjie oppak, dan loop ons,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen het glo omgedraai toe een van die “veiligheidswagte” hom aan die bors gegryp het, en hy ‘n “hou van agter af gekry het met ‘n glas.”

“Ek het ´n klomp houe en skoppe gevoel … Ek het opgestaan en begin terugslaan, want ek was nie net bang vir my eie veiligheid nie, maar ook vir dié van my verloofde en haar suster. Ek het een van hulle raakgeslaan …” sê Van der Westhuizen. Volgens hom het hulle toe in hul voertuig geklim en reguit hospitaal toe gery.

Van der Westhuizen het ‘n snywond aan sy nek gehad wat toegewerk moes word. Sy oog is blou geslaan en daar moes X-strale van sy regterhand geneem word. Hy het Maandag ‘n klag teen Tigere, Chakamanga en Kavhu ingedien.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het verlede Vrydag die voorval bevestig en gesê dat daar wel teendossiere van Tigere en Van der Westhuizen ontvang is. Wat betref Tigere se aantygings teen die polisie, het Sadike gesê dit sal ondersoek word sodra ‘n formele klag teen die betrokke SAPD-lede ingedien word.

“Die stasiebevelvoerder sal geen wangedrag van SAPD-lede duld nie. Ons streef daarna om polisieregulasies en landswette na te kom en sal ‘n ondersoek loods sodra Tigere ‘n klag indien,” het Sadike gesê.

Die saak tussen Tigere en Van der Westhuizen-hulle is uitgestel tot 3 Mei.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines