

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 March 2011
As al die toerusting by die dorp se boorgate en pompstasies in goeie werkende orde is en die pypleiding vanaf die Albasini korrek funksioneer, behoort daar feitlik nooit ‘n waterkrisis op te duik soos wat in Maart die geval was nie.
Dit is die mening van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), ná twee besoeke aan Louis Trichardt se munisipale boorgate. ´n Verslag is ná die eerste besoek op 11 Maart saamgestel. Mnr. Chrisjan van den Berg, voorsitter van die SBBV, het met skok gereageer op die verslag.
“Dit is skokkend om te sien dat water wel beskikbaar is en hoe duur toerusting in die son staan en vergaan, maar as gevolg van die verval, gebrek aan onderhoud, vandalisme en nalatigheid, kan belastingbetalers in die dorp sonder water sit, net omdat die Vhembe en Makhado Munisipaliteite nie die regte bestuur toepas en noodsaaklike instandhouding betyds doen nie,” het Van Den Berg gesê.
Ná die tweede besoek op 21 Maart was die gevolgtrekking dat indien die boorgate en die Albasini-pypleiding onder die regte bestuur kon kom, die dorp se waterreserwes voldoende sou wees. “Die waterkrisis is ‘n mensgemaakte instandhoudingskrisis,” het een van die SBBV-lede gesê.
Die besoeke het aan die lig gebring dat daar in die Rietvlei area suid van die rioolplaas vyf klein opgaartenks oor die area versprei is. Elke opgaartenk het een tot drie boorgate wat die tenk voed. Vanaf die opgaartenks word die water na die pompstasie in Kortstraat en vandaar na die dorp se reservoirs gepomp. By elke boorgat is ‘n oranje staalstruktuur wat baie duur toerusting bevat om onmiddellik kennis te gee van iets wat fout gaan by die boorgate of pompe. Die stelsel werk blykbaar nie, omdat die batterye nie in stand gehou word nie.
Daar word gewoonlik aangedui dat daar 12 boorgate in die Rietvlei area is. Daarvan is nege besoek, terwyl drie nie opgespoor kon word nie, want hulle is toegegroei, wat toon dat hulle selde besoek of in stand gehou word.
Tydens die tweede besoek is ses boorgate gevind wat werk, teenoor die vyf van die eerste besoek. Een boorgat is onlangs netjies reggemaak en is die enigste boorgat met ‘n staalkas as beskerming teen kabeldiewe. By die ander boorgate is die koperkabels onbeskermd teen brandgevaar.
By een werkende boorgat spuit water uit en groei die gras ruig. By twee ander boorgate wat werk, het lekkende pype laat opdam, tot so ´n mate dat beeste daar kan drink. “Hoeveel van ons water gaan hier verlore?” vra die SBBV.
Een boorgat naby die Madombidzha-pad se pomp, wat binne ‘n sinkhuis staan, werk glad nie. “Dit is duidelik dat daar weinig of geen onderhoud op die pomp gedoen was nie. Ons beskou dit as ‘n gruwelike nalatigheid,” sê die SBBV.
´n Ander boorgat is net ´n gapende pyp in die grond. Daar naby staan die duur oranje staalstruktuur met die waarskuwingstoerusting as ‘n monument dat daar eens ‘n poging was wat nie deurgevoer of instand gehou is nie. Die klein opgaartenks is nie omhein nie, of waar dit is, staan die hekke oop of die heining is stukkend.
By Ledig is daar drie of vier boorgate, waarvan twee gevind kon word en een werk.
Die pompstasie in Kortstraat is oop en onbeskermd gevind. Water spuit al so lank daar uit, dat ´n opgaardam uit die sement gekalwe is. Die elektriteitsvoorsiening is onbeskermd, al is kabels al voorheen daar gesteel. ‘n Groot gat in die draad is met ‘n paar stukke draad toegetrek.
Volgens ‘n spesialisverslag wat onder die aandag van die SBBV gekom het, werk die twee boorgate naby die spoorwegpompstasie in Kortsrtaat nie. By sekere boorgate is die water so vlak as vier meter. Beskikbaarheid van water is dus nie ‘n probleem nie.
Van der Berg het gesê dat die departemente op provinsiale en nasionale vlak in kennis gestel gaan word dat die Vhembe en Makhado Munisipaliteite die inwoners van Louis Trichardt te na kom en sonder water laat, terwyl water beskikbaar is. “Dit is totaal onaanvaarbaar,” het Van den Berg gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
