ADVERTISEMENT:

 

Rekeningprobleme word uitsorteer, meen Raad

 

News  Date: 25 March 2011

 

Rekeningprobleme word binne ‘n paar dae uitgesorteer, sê die Makhado Munisipaliteit.

‘n Nuwe intrrekker, me. Elza van Heerden, sukkel sedert Oktober verlede jaar om ‘n fout op haar munisipale rekening reggestel te kry. ‘n Verkeerde straatadres verskyn op die rekening, nl. Kroghstraat in plaas van Kortstraat.

“Die verkeerde adres veroorsaak probleme. Die bank wil ‘n munisipale rekeningstaat met die regte straatadres hê. Hulle benodig dit vir verifikasie van die adres. Ons poging om voorlopige belasting te betaal, word in die wiele gery, want geld word nie beskikbaar gestel nie, omdat die adres wat ek gee, verskil van die adres op die rekeningstaat. My bankrekening van die vorige dorp word nie oorgeplaas nie, want hulle soek ‘n korrekte munisipale adres,” sê Van Heerden. Sy sê dat sy nie kan verstaan dat ‘n fout nie onmiddellik opgelos kan word nie.

Telkemale het Van Heerden persoonlike besoeke aan die Makhado Munisipaliteit gebring. Sy was op 4 Januarie daar, ‘n paar maal in Februarie, op 3 en 4 Maart en weer in die middel van Maart. “Hierdie keer het ek ‘n getikte brief van my man saamgeneem waarin hy sê dat as ons besonderhede foutief is, ons nie gaan betaal nie. Ek was toe al goed omgekrap. Me. Nemutshili het belowe dit sal die einde van die maand reg wees."

Die munisipaliteit ontken dat hierdie saak al maande sloer. “Die saak is binne twee dae opgelos. Dit is nie korrek om te sê dat die fout vyf maande geneem het om reggestel te word nie,” was die skriftelike antwoord van die munsipaliteit. Van Heerden sê dat die bewys dat dit reggestel is, gelewer sal word wanneer die nuwe rekening kom.

In ‘n ander huishouding is ‘n groot skok ontvang toe ‘n waterrekening van meer as R23 000 kom, pas nadat ‘n nuwe watermeter geïnstalleer is. Me Annelize Mocke het op 1 Maart ‘n brief aan die munisipaliteit geskryf en gesê dat dit onmoontlik vir ‘n normale huishouding is om soveel water te verbruik, veral aangesien hulle boorgatwater vir die tuin gebruik. By navraag oor hierdie geval is aan die Zoutpansberger gesê dat dit wel moontlik is dat soveel water verbruik kan word, maar dat dit in hierdie geval ‘n fout was wat reggestel is.

Frans en Babs Pretorius sê dat hulle al twee jaar sukkel met ‘n watermeter wat nie in orde is nie. “Die glas oor die meter is so donker dat ‘n mens niks kan sien nie. Hulle gryp sommer syfers uit die lug. Ons wil weet waar kom hulle aan hulle lesings. Ons het dit al hoeveel maal gerapporteer,” sê die Pretorius egpaar. Hulle rekeningnommer is aan die munisipaliteit gegee. “Volgens die ondersoek wat ons uitgevoer het, bestaan daar nie so ‘n probleem nie,” het mnr. Elias Mugari, Direkteur van Gemeenskapsdienste, op 18 Maart geantwoord.

Mugari het ook gesê dat die munisipaliteit besig is om fisies die meters by huishoudings en ander persele te verifieer. Hy het die probleem genoem dat daar eiendomme is waar die meters ontoeganklik is as gevolg van hekke wat permanent gesluit is en eienaars wat kwaai honde aanhou.

“In daardie gevalle moet die meterlesers hulle verlaat op skattings,” sê Mugari. Hy sê ook dat die munisipaliteit oor die jare gegroei het en dat addisionele mannekrag benodig word om die verhoogde werklading te behartig.

Verder maan die munisipaliteit alle verbruikers om enige probleem sonder vertraging aan die munisipaliteit te rapporteer. Alle navrae kan Maandag tot Saterdag gerig word aan mnr. Mr N.N. Mpeiwa by 015 519 3112 of me. A.G. Nemutshili by 015 519 3156 tussen 08:00 en 13:00.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines