

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 April 2011
Nog ´n stiefpa van Louis Trichardt is verlede Vrydag in hegtenis geneem op ‘n klag dat hy sy negejarige stiefdogter seksueel gemolesteer het.
´n Klag van verkragting is teen die 45-jarige man aanhangig gemaak. Daar word aangevoer dat hy sy stiefdogtertjie glo verskeie kere oor etlike jare seksueel misbruik en betas het.
Die man het ná sy inhegtenisname vlugtig in die hof verskyn. Hy het die naweek agter tralies deurgebring en het Maandag ´n borgaansoek in die Distrikshof hier gebring, waarna hy op R2 000 borg vrygelaat is. Indien die man skuldig bevind word, kan hy ingevolge die Wet op Minimum Vonnisse (Wet 105 van 1997) lewenslange gevangenisstraf opgelê word. Die dogtertjie is intussen in die sorg van haar ma toevertrou. Die ma is reeds in die proses om van die man te skei.
Hierdie jongste voorval van beweerde kindermolestering is vandeesweek vanuit polisiegeledere as “erg kommerwekkend” beskryf, veral gesien in die lig daarvan dat baie min oortreders ‘n kriminele rekord het en dikwels gesiene lede in hul gemeenskap is.
Volgens die Child Accident Prevention Foundation of South Africa se webblad is die molesteerder bekend aan die kind in 80% van die gevalle. Juis om hierdie rede sê kapt. Danelle Fourie, wat verbonde is aan die plaaslike Kinderbeskermingseenheid (KBE), is dit moeilik om so ´n saak te ondersoek.
“Die kind word gewoonlik lank voor die tyd voorberei. Hierdie stadium loop dikwels hand-aan-hand met pornografie,” sê Fourie.
Deur omkoopgeskenke aan te bied vir seksuele "gunste" of om hul stilswye te "koop" maak pedofiele seker dat hulle slagoffer(s) ook nie sommer sal uitpraat nie. Dit maak dit dus moeilik om te bepaal of ´n kind hom of haar in die kloue van ‘n pedofiel bevind. Volgens Fourie is dit nog maklik om waarskuwingtekens by jonger kinders te sien, maar hoe ouer die kind word, hoe moeiliker sal die kind praat.
Jonger kinders sal byvoorbeeld oorbewuste seksuele gedrag openbaar, terwyl ouer kinders buierig word en tekens van gedragsagteruitgang sal toon. Ander tekens om voor op te let sluit in depressie, bednatmaak en skielike agteruitgaan in persoonlike higiëne.
Fourie maan egter dat kinders uniek is en dat hulle mishandeling op verskillende maniere sal openbaar.
“Hierdie tekens kan nie as ‘n reël getrek word nie en kan dalk ander probleme soos dwelms uitwys.”
Ingevolge die Seksuele Misdrywe Wet (Wet 32 van 2006) kan ´n oortreder steeds vervolg word al rapporteer ‘n slagoffer ‘n saak eers jare later.
Dié wet maak ook voorsiening vir ‘n wye definisie van verkragting en ´n oortreder word ook verplig om ´n HIV-toets te ondergaan. Die toets moet egter binne 90 dae na die voorval aangevra word. Die wet maak verder ook voorsiening vir die beskerming van minderjariges (kinders onder die ouderdom van 16) teen die wys van pornografie, seksuele voorbereiding en die vervaardiging van kinderpornografie deur dit as strafbare oortredings te definieer. Dit skryf verder ook voor dat alle veroordeelde oortreders, waar die slagoffer ´n kind was, se besonderhede opgeneem moet word in ´n nasionale register. Daar word ook ´n verpligting op die oortreder geplaas om sy veroordeling aan sy werkgewer te openbaar.
Voorkoming is egter beter as genesing. Kinders moet derhalwe geleer word om nee te sê, so ook grootmense, en moet aangemoedig word om met iemand te praat as hulle gemolesteer word totdat hulle hulp ontvang, sê kapt. Fourie.
Indien daar wel ´n vermoede bestaan dat ´n kind gemolesteer word kan die plaaslike KBE geskakel word by tel. 015 519 4465.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
