ADVERTISEMENT:

 

Me. Monica De Almada en haar dogter, Marlene (11), is baie lief vir die natuur en gaan stap gereeld in die bos vanaf die plaas, Misty Heights, op die Bluegumspoortpad. Saterdag het die donkerte hulle egter oorval en het hulle ‘n angswekkende paar ure beleef…

Angsure vir verdwaalde ma en dogter

 

News  Date: 01 April 2011

 

‘n Moeder en dogter wat met ‘n hond in die Hanglipplantasie gaan stap en verdwaal het, het ‘n angswekkende paar uur in die stik donkerte beleef, totdat hulle eindelik gevind is.

Me. Monica De Almada en haar dogter, Marlene (11), is baie lief vir die natuur en gaan stap gereeld in die bos vanaf die plaas van ‘n goedhartige vriend, mnr. Wayne Roper. Roper se plaas, Misty Heights, is op die Bluegumspoortpad geleë.

Saterdag het die twee stappers hul egter misgis …

Monica en Marlene het net na 17:00 met Bronze, Wayne se hond, gaan stap. In ‘n stadium was daar ‘n vurk in die pad en hulle het die regterhandse afdraai geneem. Hulle kom toe op ‘n boom af wat dwars oor die pad geval het en besluit om liewers om te draai. Intussen het die donkerte hulle skielik oorval en kon hulle nie meer sien waar hulle is nie. Marlene het haar selfoon by haar gehad en hulle het daarmee lig gemaak.

“Ons het ‘n gat gegrawe sodat ons daarin kon sit met ons rûe teen ‘n boom. Wayne het ons so geleer sodat ons nie luiperdkos sou word nie,” sê Monica. Marlene het agtergekom dat haar selfoon se battery vinnig pap word en sy het hulle buurvrou in Groningen woonstelle, tannie Johanna van Greuning (70), gebel. “Ons noem haar Ouma. Ons het Ouma gevra om te bid, want ons is verdwaal en bang en moet dalk die nag hier slaap,” sê Monica.

Tannie Johanna het die oproep om 18:30 ontvang en die nuus versprei dat daar gebid moet word. Nog ‘n vriendin wat in dieselfde woonstelle bly, me. Violet Prins, het gesê mense maar kan bid, maar dat hulle ook iets moet doen. Die Soutpansberg Dorpswag is verwittig en spoedig het 35 motors opgedaag om met die soektog te help. Tannie Johanna het ook vir Wayne laat weet. Hy het ´n koplamp gegryp en in sy bakkie gespring.

Mnr. Murvin Wiggill, wat naby die Hanglipkantoor woon, het Wayne gesien en hulp aangebied. Murvin het ook met mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, in verbinding getree. Dirk het saam met dorpswaglede en polisiereserviste na die Hanglipkantoorgebied gejaag. Wayne was haastig om die verdwaaldes te kry en het sommer die berg opgedraf. Intussen het meer dorpswaglede, hul vrouens en kinders opgedaag, gewapen met koplampe en flitse. Omstreeks 20:45 het Wayne op die twee verdwaalde grootoog “bushbabies” afgekom.

“Ons het ‘n lig sien aankom, maar my ma het gesê ek mag nie ‘n geluid maak nie, vir ingeval dit mense met verkeerde bedoelings was. Maar ek het sommer geweet dit is Wayne,” vertel Marlene. Vandaar is hulle terug na die huis by Misty Heights, skaars 20 minute se stap. Kort daarna is die dorpswag inkennis gestel dat hulle gevind is.

“Hierdie dorp se mense het soveel liefde. Hulle is soos ‘n familie. Wayne het gesê dat hy vir almal wat kom help het, ‘n braaivleis by Misty Heights wil hou,” sê Monica. Sy sê sy sal weer gaan stap.

Die De Almada’s bedank graag vir Wayne, al die persone en hulle gesinne wat uitgekom het na die toneel, die polisie, asook vir Johanna en almal wat gebid het.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines