ADVERTISEMENT:

 

Honde uitgesit ná derde vergiftiging

 

News  Date: 01 April 2011

 

Na ‘n derde vergiftiging is die viertal honde van me. Verna Smith van Louis Trichardt uit hul lyding verlos en uitgesit.

“Hierdie keer het ek nie ‘n keuse gehad nie. Die honde het te veel skade opgedoen. Ek voel kwaad en bekommerd. Kwaad omdat hulle ´my kinders´ was en bekommerd oor die gedetermineerdheid waarmee die misdadigers keer op keer die diere vergiftig,” het Smith Dinsdag gesê. Die vergiftiging het plaasgevind by haar woning in Wolmaransstraat.

Die vier honde het vergiftiginspogings op 23 Februarie en 12 Maart oorleef, nadat hulle onmiddellik veearts toe geneem is en deurgehaal is. Vrydagoggend, 25 Maart, is ontdek dat die diere weer simptome van vergiftiging toon en is hulle na die veearts gejaag.

“Ek moes al vier honde uitsit, nadat hulle weer ‘n keer vergiftig is. Daar is ook agt katte wat dood is aan die gif. Die eienaar van die honde was ontroosbaar,” het dr. Nada de Villiers Vrydag gesê.

Intussen is ‘n hond in Kameelstraat vergiftig en ‘n huisbraak het plaasgevind. So sê mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag. Meissenheimer se eie groot boerboel is ook op 12 Maart vergiftig. Daar is nie by die huis ingebreek nie. Hy sê dat honde ‘n noodsaaklike maatreël vir beveiliging teen misdaad is en is alreeds besig om ‘n nuwe jong hond op te lei om die perseel te beveilig.

Beveiliging is noodsaaklik, want op die misdaadfront is dit nie rustig nie.

“Die manne is beslis aktief. Hulle was besiger in Maart as in Februarie. Dit verstom ‘n mens steeds as jy in die nag ry om te sien hoeveel hekke staan oop, hoeveel huisdeure en kardeure staan fisies oop. Ek kan nie verstaan dat mense so nalatig is nie,” het Meissenheimer gesê.

Kaptein Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, sê dat die polisie te hore gekom het van die vergiftigings. Hy het bevestig dat sporadiese gevalle van huisbraak voorkom. Dit wil voorkom of die brandpunte Tshikota, Munzhedzi, naby Vleifontein en Louis Trichardt is.

Diefstalle van motorvoertuie kom voor. “Al sou daar net een of twee gevalle van motordiefstalle per maand wees, is dit een of twee gevalle te veel,” sê Sadike.

Diefstalle uit motorvoertuie is ook ´n probleem tans. Sadike het gewaarsku dat mense versigtig moet wees oor waar hulle parkeer en seker maak dat hulle sluit. Hy sê dat hy self al gevalle gesien het waar mense hulle voertuie se vensters ooplaat in parkeerareas.

Verder maan Sadike inwoners om nie alleen te stap nie. Plekke wat na-ure liefs vermy moet word, is die roete langs die inligtingsentrum, die gedeelte van Stubbsstraat vanaf Mount Fuji na die N1, Rissikstraat in die rigting van die Litshovhurivier by Bridge Auto, die roete naby die skougterrein op die Thohoyandoupad en ook die paar kilometers uit die dorp op die N1 na Musina.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines