ADVERTISEMENT:

 

Wyle Buks van Tonder (40).

Sy glimlag sal gemis word

 

News  Date: 01 April 2011

 

Iemand wat altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad het … So sal inwoners van die Soutpansberg vir Buks van Tonder onthou wat verlede Vrydagaand op slag dood is in ‘n tromp-op botsing op die Sinthumule/Tshiozwi-pad.

Buks was na werk op pad terug na sy ouers, Ina en Vossie, se plaas, toe die ondenkbare plaasgevind het. Volgens inligting het ‘n man vanaf ‘n sjebien in Madombidza reg voor Buks ingedraai. Die ongeluk was onvermydelik en volg slegs sewe dae na sy 40ste verjaardag. Die bestuurder van die ander voertuig is ernstig beseer en is oorgeplaas na Polokwane vir mediese behandeling. Teen druktyd was sy toestand onbekend.

“Sy hele hart was in sy glimlag. Dit sal ek baie mis,” het ‘n steeds-bedroefde Ina Dinsdagoggend oor haar seun gesê. Vossie was sterk, maar die hartseer en trane het ook vlak gesit. Dat hul seun se dood ‘n groot leemte laat, is duidelik, gemeet aan die boodskappe van vertroosting en medelye wat uit alle oorde gestroom het op die sosiale netwerk Facebook. Een van Buks se laaste internet korrespondensie aan vriende ure voor sy ongeluk was ´n Bybelse teksvers (Psalm 46:11) wat lees: "Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde."

Buks het onlangs Soutpansberg Radiators op Louis Trichardt oorgeneem. Hy het egter die besigheid opgesê om eerder sy ouers vanaf einde Maart op die familieplaas, Downton, te gaan help. “Hy kon nie wag om sy pa te kom help nie,” vertel Ina.

Buks het by Hoërskool Tom Naudé gematrikuleer. Na skool was hy as motorwerktuigkundige werksaam by die destydse Intercity Delta. Inwoners sal hom egter onthou vir sy jarelange verbintenis met Louis Trichardt Abattoir.

Ina het groot dank vir almal wat hulle in hierdie hartseer tyd ondersteun het. Sy het egter ‘n spesiale woord van dank gerig aan Marius en Elna Botha, FG en Evette Oosthuizen en Hannetjie van Tonder. “Sonder julle sou ons nie die mas kon opkom nie,” sê Ina.

Wyle Buks word Donderdag om 10:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Hy word oorleef deur sy ouers en jonger broer, Douw.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines