ADVERTISEMENT:

 

Soutpansberg geoormerk vir ´groen´ krag

 

News  Date: 08 April 2011

 

‘n Sonkragaanleg met ‘n opwekkingsvermoë van 60MW word in die omgewing van Vivo beoog, aansienlik meer as die huidige kragverbruik van Louis Trichardt en omstreke, wat sowat 40MW beloop.

Die Soutpan Sonkrag Park word beoog op 500 hektaar van ‘n gedeelte van die plaas Zuurbult en is een van minstens drie soortgelyke hernubare kragopwekkingsaanlegte wat die onderneming DAFNE Energy in Limpopo wil ontwikkel. Formele aansoeke is reeds ingedien. Die ander twee fotovoltaïese sonkragaanlegte wat beplan word, is Witkop Sonkrag Park (30 MW) by Thabazimbi en die Delta Sonkrag Park (30MW) by Lephalale.

Die terrein op Zuurbult word beskou as ideaal vir sonkragopwekking. Dit is gelyk grond met gunstige klimaat en bestralingstoestande wat geskik is vir ´n hoë koers van elektrisiteitsopwekking met behulp van fotovoltaïese sonpanele.

Die gebruik van hernubare kragtegnologie word beskou as ´n volhoubare manier om in die toenemende elektriese kragbehoeftes van die land te help voorsien en sal na verwagting aansienlik bydra tot die uitbreiding van die Suid-Afrikaanse kragopwekkingsmark, wat tot dusver hoofsaaklik deur steenkoolkragopwekking oorheers is. Die gebruik van sonkrag is een van die skoonste alternatiewe kragopwekkingstelsels, omdat dit geen materiaal verbruik nie en geen skadelike gasse in die atmosfeer vrylaat nie. Volgens die amptelike Witskrif oor hernubare kragopwekking, stel die regering ´n mikpunt van 10 000GW vir skoon, "groen", hernubare energie teen 2013, in ooreenstemming met die Kyoto Protokol vir die verminderde vrystelling van skadelike gasse in die atmosfeer.

Kennis van ‘n omgewingsimpakstudie ten opsigte van die Soutpan-projek is verlede week gepubliseer. Die impakstudie word behartig deur AGES (Pty) Ltd en belanghebbendes word genooi om voor 28 April hul belang aan te meld by die onderneming se kantoor in Marshallstraat 120 in Polokwane 0699, tel. 015 291 1577 of 083 644 9957, e-pos: [email protected], of Posbus 2526, Polokwane 0700.

Die Soutpan-projek behels die oprigting, bedryf en instandhouding van ‘n fotovoltaïese sonkragaanleg met gepaardgaande infrastruktuur en strukture. Die aanleg sal bestaan uit rye sonpanele wat op metaalrame gemonteer en in fases opgerig sal word. Dit sal nagenoeg 180ha van die 500ha in beslag neem.

Die aanverwante infrastruktuur behels interne en eksterne toegangspaaie en ‘n klein parkeerarea, omheining, ‘n video sekerheidstelsel, fondasies vir die rame waarop die sonkragpanele gemonteer word, ‘n kragaansluitingspunt vir die boufase en ononderbreekbare kragtoevoerstelsel, ‘n water aansluitingspunt of wateronttreking op die perseel uit boorgate, watertoevoerpype en waterbehandelingstoerusting, rioolstelsel en stormwaterdreineringstelsel. Bykomende strukture behels ‘n werkswinkel, bergingsruimte, woongeriewe en administratiewe ruimtes, sowel as ‘n beheerkamer. Dit sluit ook in die lê van verbindingskabels tussen die fotovoltaïese rye en ander interne kabelnetwerk, medium-volt stasies en een hoogspanningsubstasie, oorhoofse hoogspanningsdrade of ondergrondse kabels om verbinding met Eskom se Soutpan hoogspanningsubstasie op Zuurbult te bewerkstellig en opslaangeboue wat na afloop van die oprigtingsfase verwyder sal word.

‘n Agtergrondsinligtingstuk in verband met die projek is by die bostaande adres beskikbaar.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines