ADVERTISEMENT:

 

Meer as ‘n jaar na ‘n gunstige hofuitspraak, veg mnr. Hannes du Toit (70), wat byna sy lewe verloor het in ´n elektriese ongeluk, steeds vir vergoeding vanaf die Musina Munisipaliteit. Foto verskaf.

Beseerde elektrisiën veg steeds vir vergoeding

 

News  Date: 08 April 2011

 

Meer as ‘n jaar lank veg ‘n dapper elektrisiën steeds om vergoeding te ontvang vanaf die Musina Munisipaliteit.

Die Hooggeregshof in Pretoria het reeds op 24 Februarie verlede jaar in mnr. Hannes du Toit van Musina se guns besluit en bevind dat die Musina Munisipaliteit 100% nalatig was ten opsigte van ´n elektriese ongeluk wat byna Du Toit se lewe geëis het. Dit was ‘n blye dag vir Du Toit en sy vrou, Ina, maar min het hulle geweet hoe ver die pad strek na hul uiteindelike doel, ‘n vergoedingsbedrag.

Op 16 April sal dit presies vyf jaar gelede wees dat ‘n stroom van 11 000 volt deur dat mnr. Du Toit gegaan het. Du Toit is deur die Musina Munisipaliteit in diens geneem om ‘n kragkoppeling te doen en die munisipaliteit het hom verseker dat die hooftoevoer afgeskakel was. Dit was nie. Die slag het ‘n gat in sy been geruk, waarna hy 9,5m vanaf ´n leer geval het. Hy het veelvuldige beserings opgedoen, waaronder 28 steke vir ‘n kopwond, asook ernstige brandwonde en nek- en rugbeserings.

Du Toit word vanjaar 71, en buiten vir die staalpen in sy regterbeen wat nog verwyder moet word, moet daar nog aan sy linkerarm, -hand en -skouer geopereer word. Hierdie operasies moet egter eers wag totdat ‘n skikking bereik kan word en ‘n bedrag aan Du Toit uitbetaal word.

Die prokureur van die munisipaliteit se versekeraar, me. Suzanne Pretorius, het na afloop van die Hooggeregshofsaak bevestig dat alhoewel uitspraak 100% in Du Toit se guns was, die hof slegs "uitspraak gegee het op meriete en nie op quantum nie.” Dit is die bepaling van die quantum of bedrag wat die afgelope jaar aan die gang is. “Ons was besig om beter bewyse vir sy toekomstige verlies van inkomste te versamel,” het Du Toit se prokureur, mnr. Leon Maré, Vrydag gesê.

In die jaar sedert die hofuitspraak, was Du Toit by al wat ‘n deskundige is. Verskeie toetse deur ‘n arbeidsterapeut en ‘n bedryfsielkundige het gevolg. Die neurochirurg wat Du Toit se nekoperasie gedoen het, moes ook bepaal of hy weer as elektrisiën sou kon werk. Netso het die ortopediese chirurg wat die beenoperasie gedoen het, hom ondersoek. Al vier hierdie deskundiges het in hul regsmediese verslae bevind dat Du Toit tans ongeskik is vir sy beroep.

“Daarna is ek terug na my huisdokter, wat my gesondheid voor en na die ongeluk moes bepaal ... Deur die genade van die Here was ek die vyf jaar voor die ongeluk so gesond soos kan kom," sê Du Toit. Dié mediese verslae beloop nagenoeg 200 bladsye en het ten doel om te bepaal watter inkomste Du Toit nog tot op 75-jarige ouderdom kon genereer.

Die Musina Munisipaliteit het voortdurend nog bewyse aangevra. Maré sê dat die munisipaliteit gelukkig nie weer hof toe wil gaan nie, maar eerder wil skik. “Ons sal slegs ’n skikking op ons voorwaardes aanvaar en hoop dat die skikkingsamesprekings in April sal kan plaasvind,” sê Maré.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines