ADVERTISEMENT:

 

AO T. Ramusilei van die Makhado SAPD bekyk die “rots” wat deur een van die kinders deur die ruite gegooi is. As daar gekyk word na die grootte daarvan, is dit moeilik om te glo dat sulke jong kinders dit kon slinger.

Klipgooiery kos ouers duur

 

News  Date: 08 April 2011

 

Twee jongelinge het die afgelope naweek hul ouers groot verleentheid besorg, nadat hulle 17 ruite by Hoërskool Louis Trichardt met klippe uitgegooi het.

Die “klipgooiery” het Vrydagaand tydens die Soutpansberg Dorpswag se dans in die skoolsaal plaasgevind. Vanweë die musiek was gaste sallig onbewus van die twee laerskoolkinders wat besluit het die skool se rekenaarsentrum kan doen met minder ruite.

Een na die ander het hulle klippe en bakstene deur die ruite geslinger. Saterdagoggend het die een jongeling se moed hom egter begewe en hy het sy pa vertel wat hulle gedoen het. Sy maatjie moes kort daarna toe ook maar pa staan vir sy optrede en beide kinders is dienooreenkomstig gedissiplineer.

Vroeg Maandagoggend het die kinders se ouers met verteenwoordigers van die skool by die beskadigde klaskamer vergader om sake uit te sorteer. Die vloer was besaai van glasstukke. Tussen die rekenaars op die tafels was daar ook twee bakstene en ‘n klip so groot dat dit moeilik is om te glo dat sulke jong kinders dit kon slinger.

Die polisie was ook daar vir versekeringsdoeleindes, maar eerder as om vir die versekering te wag, het die ouers aangebied om al die skade op eie koste te herstel.

Mnr. Theo Muller, waarnemende hoof, het na die voorval gesê dit is die eerste keer in amper ‘n dekade dat so ‘n geval van vandalistiese kattekwaad by die skool plaasvind. Hulle het al voorheen probleme gehad met onder meer boosdoeners wat brandslange in klaskamers ingedruk en dit oopgedraai het. Hierdie probleme, het Muller gesê, het iets van die verlede geword ná die aanstelling van permanente sekuriteitswagte.

“Ons het geen kwade gevoelens teenoor die kinders, hul ouers of die Soutpansberg Dorpswag nie,” het Muller gesê. As iemand wat daagliks met jongelinge werk, verstaan hy dat kinders soms dom dinge aanvang. Hy het Woensdag bevestig die ouers het reeds Maandag al die stukkende ruite vervang. Die ouers het ook op eie koste die rekenaars laat nagaan, skade herstel en laat skoonmaak. Muller het ook genoem dat die dorpswag reeds verskeie danse in die saal aangebied het en dat hulle steeds welkom is om dit te doen.

Mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, het ná die voorval gesê dit is jammer dat so iets tydens ‘n dorpswagfunksie moes gebeur.

“Dit was kinders wat kattekwaad aangevang het en die ouers het volle verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders se optrede,” het Meissenheimer gesê. Alhoewel dit nie dorpswaglede was wat vir die skade verantwoordelik was nie, het Meissenheimer tog namens die dorpswag die skool om verskoning gevra.

“Ons het nog nooit probleme tydens ons danse ter fondsinsameling gehad nie,” het Meissenheimer gesê en bygevoeg dat die danse ten doel het om ook aan ouers met kinders ‘n rustige omgewing te gee waar hulle kan ontspan en dans, sonder die kopsere van ‘n gedrink.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines