

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 April 2011
‘n Gemeenskap soek en die kleuters bid ... want ‘n geliefde Arabierperd het spoorloos verdwyn.
Die Arabiermerrie, Calipha, wat almal vyf dae laat naels kou het, behoort aan me. Coreen Luies. Terwyl Coreen voltyds aan die Universiteit van Pretoria studeer, sorg Pa Eddie dat Calipha in oefening bly. ‘n Plesierrit in die Ben Lavin Natuurreservaat buite Louis Trichardt saam met die Soutpansberg Ruiterklub was dus die aangewese ding vir Calipha, met Eddie in die saal.
Na middagete op Saterdag, 26 Maart, het Eddie soos gewoonlik eers seker gemaak dat al die ruiters in die saal is. Hulle sou die terugtog vanaf die hoofkamp aanpak.
“Toe ek opklim, het die saal kant toe gegly as gevolg van ‘n nuwe saalkleedjie. Ek het afgespring en toe Calipha die saal onder haar pens voel, skop sy wild in en daar trek sy," vertel Eddie. Die saal se buikgordbande het gebreek en in die pad gelê. Sy het die ruie bosse ingevlug met die haltertou om haar nek en haar toom. Die ander 14 ruiters het dadelik begin soek, maar na sononder is die soektog vir eers gestaak.
“Daar was kommer in almal se harte, aangesien Calipha nog nooit in haar lewe buite ‘n stal geslaap het nie,” sê Coreen se ma, Lita. Sondagoggend vroeg het tien perderuiters en vyf bakkies die hele 3000 hektaar van Ben Lavin gefynkam.
“Ons kon geen spoor of mis vind nie, en ons het onrustig begin raak. Die dag was warm en water in die kamp was skaars,” sê Eddie. Net voor sononder het ‘n mikroligte vliegtuig kom help, maar helaas, sonder sukses. “Hoe kan ‘n wit perd soos ‘n groot speld verdwyn? Sou sy in ‘n strik getrap het of iewers dood lê? Nog ‘n slapelose nag is deur baie perdeliefhebbers deurgebring,” sê Lita.
Maandagoggend is die soekgeselskap weer die ruigtes in. “Die middag het Floris Prinsloo met sy girokopter vir twee ure kruis en dwars oor Ben Lavin gesoek, maar die bome vorm ‘n kombers en die perd kon nêrens gesien word nie. Ons het gewonder hoe lank sy sonder water kon oorleef as sy nog nie dood was nie,” sê Eddie.
Dinsdag is die hulp van Louis Joubert en Ron Sparrow se spoorsnyers ingeroep. Pieter Pretorius van Levubu het met sy vastevlerk vliegtuig oor die reservaat gevlieg, maar steeds was daar geen sukses nie.
Henk Dafel se spoorsnyers het Woensdagoggend bygekom. Lialize Besuidenhout het spesiaal ‘n hings se gerunnik opgeneem en deur ‘n megafoon gespeel ... dalk sou Calipha antwoord. “Teen daardie tyd het ons besef ons sou net deur ‘n wonderwerk die geliefde perd lewendig kry,” sê Lita, wat die Aralita Kleuterskool bedryf.
“Die Aralita Kleuters het met kinderlike geloof en met erns gebid dat die spoorsnyers maanhare of mis of enige spoor moet kry en dat Calipha asseblief moet leef. Teen donker was daar nog geen teken nie. Wat sê ek more vir die kleuters?” het Lita gevra.
Donderdagoggend het Eddie besluit om drie spoorsnyers vir die hoeveelste keer te laat soek vanaf die plek waar hulle die saal gekry het. Eddie self het van die teenoorgestelde kant begin terugloop en soek.
En toe kom die goeie nuus.
Calipha is om 08:45 deur Ron se spoorsnyer gevind, skaars 300 meter van waar sy weggehardloop het. Haar toom het vasgehaak en daar het sy bly staan, soos sy geleer is. Vir vyf dae was sy sonder water en kos, buiten vir ‘n paar bossies wat sy kon bykom.
“Sy het daar en dan 20 liter water opgedrink. Sy het ook 40 kilogram gewig verloor, maar verder was sy ongedeerd. Coreen, wat die naweek huistoe gekom het, kon Vrydag weer op haar ry!” sê Eddie.
“Ons het hieruit geleer dat mense in Louis Trichard omgee; as hulle self nie kan soek nie, bid hulle. Lourens Muller van Ben Lavin het perde en voertuie toegelaat om in te kom en selfs in die ‘geen toegang’ paaie te soek!” sê Lita.
Eddie, Lita en Coreen Luies bedank graag vir Francois, Marina, Flip, Louis, Lizette, Lialize, TS, Adelle, Angelique, Nada, Geoff, Jennifer, Carol, Julius, Leanna, Ben, Lourens, Nicolette, die Horns en hul dogters en die Aralita kleuters en personeel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
