

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 April 2011
Een van die ou plaaswonings op die Bluegumspoort-pad wat dateer uit die tyd van die ou Koperroete is die afgelope week in puin gelê na ´n verwoestende brand.
Die brand het verlede Donderdag by die plaas Wallfield uitgebreek ná ‘n gaslekkasie. In die proses, vertel mev. Suzette Senekal, is talle van haar familie se Africana-kultuurgoedere verwoes in die vlamme.
“Ons het maar so deur die jare ou kultuurstukke versamel wat ons uitgestal het in die huis. Daar was onder andere ‘n foto van Paul Kruger met sy oorspronklike handtekening wat my ma nog in ‘n tikkie-kompetisie gewen het,” het Senekal Maandag gesê.
Die plaas en huis behoort aan haar en haar oorlede man en hulle het dikwels ‘n naweek of ‘n vakansie vanaf Polokwane deurgery vir ‘n blaaskans.
Senekal vermoed die brand is veroorsaak deur een van die vrieskaste in die huis se gasbottels wat gelek het. Mnr. Giel Senekal, die plaasvoorman, en sy vrou, Elsabé, was glo ten tye van die voorval op die plaas gewees.
Toe Elsabé besef die huis is aan die brand, het sy dadelik vir Giel geroep waar hy besig was om ‘n lyndraad reg te maak. Hy en sy plaaswerker was ongelukkig te laat. Die vlamme het die hele huis verswelg en al wat hulle kon doen was om maar die grasdaklapa langs die huis nat te spuit om te keer dat dié nie ook afbrand nie.
“Giel moes vir rookinaseming behandel word en het ‘n nag in die hospitaal spandeer,” het Senekal gesê. Sy het teen druktyd nog nie self na die skade kom kyk nie. “My hart is nog baie seer oor die huis. Ek weet die huis was in die jare toet die ou poskantoor.”
Volgens plaaslike geskiedeniskenner mnr. Pieter Botha, het die plaashuis wel op die ou Koperroete gestaan, wat in die jare ná die tweede Boereoorlog vanaf Musina na Polokwane geloop het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
