

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 April 2011
Die Staat sê hulle het nog tyd nodig om die saak teen Dawie Groenewald (42) en sy 12 mede-beskuldiges, wat verlede jaar in hegtenis geneem is in verband met grootskaalse renosterstropery, behoorlik te ondersoek.
Hierdie versoek is Maandag aan die hof gerig tydens die 13 beskuldigdes se verskyning in die landdroshof op Musina te midde van groot landswye mediabelangstelling.
Die aantal beskuldigdes het gegroei tot 13, nadat nog twee mans, Johannes Gysbert du Preez (31) en Josef Maluleke (39), in Oktober in hegtenis geneem is. Du Preez is ‘n professionele jagter en Maluleke ‘n algemene plaaswerker wat glo albei in diens van Groenewald was op sy plaas Prachtig.
Die ander beskuldigdes, Sariette (34), Groenewald se vrou, twee veeartse van Modimolle, Karel Toet (46) en Manie du Plessis (37), Toet se vrou Marisa (38), Nardus Rossouw (43), Leon van der Merwe (44), Dewald Gouws (25), Paul Matoromela (61) en Jacobus Marthinus Pronk (48) het ook Maandag in die hof verskyn, almal deftig geklee.
Die Groenewalds is die eienaars van Out of Africa Adventure Safaris en lede van die plaas Prachtig, wat as BK geregistreer is naby Bokmakierie in die Musina-distrik. In hierdie stadium word dit beweer dat daar 21 renosterkarkasse waarvan die horings verwyder is op Groenewald se plaas gekry is deur die polisie se spesiale eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke.
Adv. Joanie Spies, die staatsaanklaer, het Maandag die hof gevra om die saak teen die 13 beskuldigdes tot volgende jaar uit te stel, sodat die ondersoek afgehandel en ´n formele beskuldigingsakte geformuleer kan word.
Spies het die hof ook meegedeel dat die Staat nie ‘n versoek van die beskuldigdes om hulle identiteitsboekies terug te kry sal opponeer nie. Die beskuldigdes het glo hulle ID-boekies teruggevra, sodat hulle in die komende plaaslike verkiesings kan stem. Die Staat het ook geen besware gehad dat Du Plessis sy paspoort terugvra om vanaf 15 tot 18 April na Namibië te reis nie.
Spies het egter die hof gevra dat die hof “Groenewald op die hart moet druk oor sy houding” wat hy glo teenoor die ondersoekbeampte en die Staat openbaar.
“Aanvanklik is mnr. Groenewald versoek om te ontspan. Die saak word ondersoek en hy moet homself gedra. Blykbaar gebeur dit nie, want hy nader mense; hy bel die ondersoekbeampte persoonlik om sekere dinge uit te vind. Hy stuur boodskappe deur vriende van hom na my toe en ek wil graag hê die hof moet hom [Groenewald] dit op die hart druk dat hy hom by die borgvoorwaardes moet hou. Hy weet wat die aard van die ondersoek teen hom is, al het hy nie ‘n lys van spesifieke getuienis teen hom ontvang nie,” het Spies gesê.
Adv. Piet van Wyk, Groenewald se regsverteenwoordiger, het teruggekap en gesê die Staat is die "skepper van hulle eie probleme".
“Ek verstaan eerstens van my kliënt dat hy baie ontspanne is en dat die aanklaer nie hoef bekommerd te wees oor sy ontspanne houding of dat hy moet ontspan nie. Ek het rede om te glo as sy paspoort teruggegee word en hy gaan op vakansie sal hy dalk beter ontspan,” het Van Wyk gesê. Hy het verder bygevoeg dat daar sowat sewe maande gelede op hulle dokumente beslag gelê is, nadat die Nasionale Vervolgingsgesag die Inkomstediens gevra het om ook betrokke te raak by die ondersoek. “Die staat kan nie net eenvoudig carte blanche aangaan en beweringe maak en mense arresteer, voor ‘n hof bring, aankla, die ergste bewering in die pers sit … vrylik laat gebeur en ons kry nie ‘n geleentheid om ons saak te stel nie.”
Groenewald sal weer Maandag, 18 April, in die hof op Musina verskyn, sodat sy aansoek om verslapping van sy borgvoorwaardes aangehoor kan word. ´n Hofbevel is Maandag uitgereik dat Groenewald en die ander 12 beskuldigdes voor 30 September formeel aangekla moet word. ´n Voorlopige verhoordatum van 23 April volgende jaar is genoem.
Tydens die 13 se hofverskyning het ´n handvol betogers van omgewingsgroepe soos die Bush Warriors plakkate en baniere buite die hof vertoon wat die renosters se saak bepleit.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
