ADVERTISEMENT:

 

Die dooie bobbejaanmannetjie onder die twee DA-verkiesingsplakkate wat Maandagoggend op die Welgevonden-pad gevind is.

Verkiesing weer nie sonder aapstreke

 

News  Date: 15 April 2011

 

Met die land se munisipale verkiesings op 18 Mei om die draai, wil dit voorkom asof dit weereens nie sonder aapstreke gaan wees nie.

Inwoners van Welgevonden, ‘n versameling kleinhoewes en plase in die Levubu-omgewing, is Maandagoggend begroet met ‘n gru-toneel.

Iemand het ‘n dooie bobbejaanmannetjie heel prominent met binddraad onder twee DA-verkiesingsplakkate teen ‘n telefoonpaal langs die Welgevonden-pad vasgebind.

Onmiddellik was die afleiding dat dit direk verband kan hou met ANC Jeugligaleier, mnr. Julius Malema, se uitspraak voorverlede naweek in Polokwane toe hy na bewering na me. Helen Zille, leier van die DA, verwys het as ‘n “lelike vrou in ‘n blou rok wat soos ‘n aap dans omdat sy stemme soek”.

‘n Verbyganger het die Zoutpansberger geskakel en die koerant het gaan foto’s neem. Met mnr. Malema se uitspraak rondom die “aapdansery” nog vars in die geheue is die DA op provinsiale vlak gevra om kommentaar te lewer. Nie te lank terug nie is daar ook groot gewag gemaak van die sogenaamde “Afrikatekens”. Derhalwe is die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) ook genader vir kommentaar, sou die bobbejaan dalk kon dien as waarskuwing vir die talle boere in die omgewing wat steeds verkies om te bly te midde van grondeise.

In haar reaksie het me. Marie Helm van die SDLU bloot gesê dat hulle “nie graag hierop wil kommentaar lewer nie”.

As geaffronteerde party sou mens dink dat die DA baie te sê sou hê wat betref ‘n gelyke speelveld in aantog tot die verkiesing, maar ook toe nie.

Me. Desiree van der Walt, provinsiale leier van die DA in Limpopo, wou nie ‘n groot bohaai oor die voorval opskop nie.

Hoekom nie was die vraag wat ontstaan het?

Die moontlike antwoord het so tussen die lyne deurgeskemer tydens ‘n telefonies gesprek met Van der Walt Maandagaand.

Van der Walt wou geensins die voorval verbind met Malema se uitspraak nie of enige klappe uitdeel na die ANC nie, maar het laat val dat hulle ‘n “vermoede” het wie vir die daad verantwoordelik was. Sy het onderneem om die volgende dag ‘n verklaring uit te reik. Dié het gelees: “Hierdie is ‘n gru-daad teen ‘n onskuldige dier. Ons neem nie ‘n aanval soos hierdie op die DA ernstig op nie, maar neem wreedheid teenoor diere wel ernstig op. Die persoon of persone verantwoordelik vir hierdie tipe wreedheid moet hulself skaam. Ons hoop hulle word gevang.”

Uit beide die SDLU en DA se reaksie het dit duidelik geblyk dat mens maar versigtig moet wees om te gou die bobbejaan agter die bult te gaan haal. Die bobbejaan is intussen verwyder, maar die motief agter die daad is steeds duister.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines