

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 April 2011
Die Demokratiese Alliansie het weereens beswaar gemaak teen die wyse waarop finansies bestuur word deur die Makhado Munisipaliteit.
DA-raadslid Brian du Plooy het na ‘n spesifieke geval verwys waar elektrifiseringsprojekte in Eskom-areas met die direkte inkomste vanaf die belastingbetaler gefinansier word.
Elektrifisering in Eskom-areas sal meer as R1m beloop indien die bedrae daarvoor in die 2012/13 en 2013/14 begroting bymekaargetel word. “Dit is ‘n verkeerde aanwending van inkomste. Dit kom daarop neer dat die munisipaliteit R1m van die belastingbetalers se geld aan Eskom leen en die infrastruktuur binne Eskom-areas doen, waarna die projek net so aan Eskom oorgedra word, wat dan die inkomste daarvoor ontvang. Die munisipaliteit kan nie vanuit direkte inkomste Eskomprojekte subsidieer nie,” het rdl. Du Plooy gesê.
Du Plooy het dadelik bygevoeg dat die DA 100% vir elektrifisering staan, maar dat hierdie wyse van finansiering nie aanvaarbaar is nie. “Gee die spesifieke projekte netso vir Eskom, want hulle gaan die inkomste daaruit verdien. Die publiek betaal alreeds duur vir hul elektrisiteit,” sê Du Plooy.
Jan Alleman betaal vanjaar 64c per eenheid elektrisiteit vir huisgebruik, BTW uitgesluit. In die 2011/12 finansiële jaar sal die bedrag 77c per eenheid wees. Die huishoudelike hoë tarief is vanjaar R89,70 en sal volgende jaar R108 beloop. Die Makhado Munisipaliteit gebruik hierdie tarief vir die maandelikse basiese heffing vir elektrisiteit.
Die Eskom verhogings is reeds ingestel met die oog op elektrifiseringsprojekte. Betaal die publiek dan nou dubbeld? Du Plooy het gesê dat die munisipale inkomste beter geïnvesteer kan word in die lewering van dienste.
By die portfolio komitee vir finansies het die DA beswaar aangeteken teen dié wyse van finansiering, maar die projekte, wat in hul beplanningsfase is, is aanvaar tydens die Raadsvergadering van 31 Maart. Die projekte vorm deel van die mediumtermyn begroting.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
