ADVERTISEMENT:

 

Vele-projek gaan nie geskrap word, mits ...

 

News  Date: 22 April 2011

 

Mynreus Coal of Africa Ltd (CoAL) moes inderhaas hierdie week vure doodslaan ná nasionale mediaberigte die rondte begin doen het dat hulle Vele-projek geskrap gaan word.

Volgens dié berigte het CoAL se hoof uitvoerende beampte, John Wallington, gesê dat die maatskappy dit oorweeg om die Vele-projek te laat vaar. CoAL het veral kapsie aangeteken oor ‘n berig wat die naweek in die Sunday Times verskyn het en was Maandag vinnig om hierdie en ander berigte te ontken.

Volgens die myngroep se bestuurder van beleggersverhoudings, Sakhile Ndlovu, is Wallington buite konteks aangehaal. Luidens die Sunday Times-artikel het Wallington glo gesê dat die Vele-projek die myn maandeliks etlike miljoene aan instandhoudingskostes uit die sak jaag. Derhalwe mis die myn uit op die huidig goeie steenkoolpryse en sal “die situasie uiteraard nie vir altyd kan aangaan nie.”

Ndlovu het Maandag telefonies aan die Zoutpansberger gesê Wallington is gevra wat die myn sal doen as die lisensies afgekeur sou word, waarop hy geantwoord het dat dit die “ergste geval” sou wees en dat die myn dan hulle planne sal moet laat vaar. Wallington het ook Maandag, by monde van Ndlovu, in ‘n e-pos dit duidelik gemaak dat CoAL nie in hierdie stadium enige planne het om Vele te skrap nie.

“Ons is steeds besig om met die regulerende owerhede te onderhandel om die nakomingskennisgewing gelig te kry. As dit nie gelig word nie, sal ons geen ander keuse hê as om die steenkoolmyn [Vele] te sluit nie ... Ons hoop egter om ‘n kompromie met omgewingsbewaring en mynbou te tref,” lees die e-pos.

CoAL het vroeg verlede jaar hulle mynreglisensie ontvang vir die Vele-steenkoolmyn, sowat 6km vanaf die Mapungubwe Wêreld Erfenisgebied op die oewer van die Limpoporivier. Aktiwiteite by Vele is egter in Augustus verlede jaar gestop, na verskeie omgewingsbewaringsgroepe druk uitgeoefen het op die Departement van Omgewingsake. Dit het die departement se Groen Skerpioene genoodsaak om ‘n nakomingskennisgewing aan die myn uit te reik, omdat hulle mynbedrywighede by Vele uitgevoer het sonder die nodgie waterlisensies.

Ten spyte hiervan het CoAL voorverlede week aangekondig dat hulle nou in besit is van die waterlisensie en nog net wag dat die nakomingskennisgewing gelig moet word.

Die Red Mapnugbuwe-groep, ‘n koalisie van omgewingsbewaringgroepe, was egter boos oor dié toedrag van sake en het dadelik appèl by die die Minister van Watersake aangeteken en ook aangedring op ´n verduideliking waarom die lisensie toegestaan is. Verder het die groep ook aangedui dat, sou dit nodig word, hulle die saak na die Hooggeregshof sal vat.

Maandag het die groep in ´n persverklaring te velde getrek teen CoAL oor sekere stellings wat in die Sunday Times -berig aan Wallington toegedig is. Wallington sou gesê het dat die twee departemente, Omgewingsake en Mynwese, verwarring skep aangesien hulle nie kan saamwerk nie. Hy sou na bewering ook gesê het dat hy ‘n omgewingsvriendelike myner is en dat daar in hierdie stadium geen aanduidings is dat die omgewingsbewaringgroepe gesprekke wil voer rondom balans, konsessies of enigsins tegemoetkomend is nie.

In hulle persverklaring kap die Mapungubwe-groep terug en sê dat hulle nie gekant is teen die myn nie, maar dat hulle dink dat die Vele-projek nie toepaslik is vir die area waarin dit geleë is nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines