

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 April 2011
Orals borrel die drinkwater uit, terwyl inwoners van Louis Trichardt dag na dag droëmond moet sit.
“Deesdae beplan jy jou hele lewe rondom die twee of drie ure per dag wat jy water het,” merk iemand Sondag by die kerk op.
Duidelik is ‘n tekort aan water nie die probleem nie, maar wel die Makhado Munisipaliteit se onvermoë om water in belastingbetalers se krane te kry en dit daar te hou. Die afgelope week was daar weer ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Reeds in November verlede jaar het mnr. Wessel Cronjé, ‘n grondeienaar van ‘n plaas sowat 10km buite Louis Trichardt op die Thohoyandou-pad, ‘n massiewe waterlek op die hoof watertoevoerlyn vanaf die Albasinidam se watersuiweringsaanleg aan die munisipaliteit gerapporteer. Omdat die lek op ‘n deel van sy grond was waar hy nie gereeld kom nie, het hy aangeneem die lekkasie is herstel. Groot was sy verbasing egter toe hy verlede Woensdag weer op dié gedeelte van sy grond kom en merk dat hy intussen ‘n rivier en dam bygekry het. Die lekkasie is nooit herstel nie.
Weer het hy die munisipaliteit geskakel. Dié het uiteindelik Vrydag (15de) die moeite ontsien om die lek te gaan herstel. Nuus hiervan het behoorlik die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) die harnas ingejaag.
“Hoe is dit moontlik dat die munisipaliteit, Vhembe of Makhado totdat hulle ophou stry oor wie nou eintlik verantwoordelik is, nie kan vasstel hoeveel water van die Albasini vloei en hoeveel by die dorp uitkom nie?” het mnr. Chrisjan van den Berg, voorsitter van die SBBV, in ‘n sterk-bewoorde verklaring gesê. Volgens hom is dit duidelik dat gereelde inspeksies van die pyplyn nie gedoen word nie.
“Daarom is die lekkasie nie ‘n gevolg van een of ander ‘ongeluk’ nie, maar bloot swak instandhouding, skokkende nalatigheid en geen verantwoordelikheidsbesef nie. Die vraag kan nou gevra word hoeveel ander lekkasies voorkom waarvan die munisipaliteit, Vhembe of Makhado totdat hulle ophou stry oor wie nou eintlik verantwoordelik is, nie eens bewus is nie,” het Van den Berg gesê. Hy het weer genoem dat daar genoeg water is, maar dat “skokkende nalatigheid, verval, geen instandhouding en bloot geen kontrole veroorsaak dat mense in die dorp nie water het nie.”
Terwyl inwoners se krane bly opdroog, droog die munisipaliteit se verskonings blykbaar nooit op nie. Hulle is gevra om te verduidelik waarom dit meer as vier maande geneem het om die lekkasie te herstel. Hulle is ook gevra om te sê waarom, volgens die SBBV, gereelde lyninspeksies nie meer gedoen word nie.
Uit die munisipaliteit se reaksie is dit duidelik dat hulle geensins met die beweringe saamstem nie. Volgens munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is die probleem eers op 14 April gerapporteer, waarna hulle spoedig op 15 April die lek gaan herstel het.
“Dit is nie waar dat dit [die lekkasie] vier maande gelede aan die munisipaliteit gerapporteer is nie,” het Bobodi gesê. Wat betref inspeksie van die dorp se hoof watertoevoerlyn, het Bobodi gesê dit word gereeld gedoen.
“Die laaste inspeksie is gedoen in Januarie 2011,” het Bobodi gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
