

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2011
As die vlaag inbrake nie stop nie, oorweeg talle sakemanne in Louis Trichardt se industriële gebied om hul ondernemings te sluit.
Volgens mnr. Pieter Schlesinger van Sandberg Vervoer weet hy van ten minste 50 inbrake en diefstalle in dié area sedert Februarie vanjaar. Hy bedryf onder meer ‘n steenfabriek op sy perseel in Industriastraat en het self al talle male deurgeloop.
Op 15 Februarie het booswigte koperkabels by die steenfabriek gesteel wat onder meer aan die rekenaar gekoppel was wat die hele steenfabriek elektronies beheer. Dit het Schlesinger R70 000 gekos om te herstel, buiten die feit dat hy twee weke se produksie verloor het.
Op Sondag, 17 April is daar by Koos Alberts in Van der Lithstraat se biltongfabriek ingebreek en koper gesteel. Drie dae later was mnr. Phillip Ludick van PJ Ludick Abattoir in Bylesstraat vir die tweede keer die teiken. Ook hy het op 15 Februarie deurgeloop, maar die skade toe was niks in vergelyking met dit van 20 April nie.
Booswigte het die koperkabels na Ludick se koelkamers geknip, asook die koperpype na sy kompressors afgesny. R50 000 later is dit herstel, maar ook hy het ‘n dag se produksie verloor.
“My bedryf is afhanklik van koper. As dit so aangaan, oorweeg ek dit om my besigheid te sluit,” het Ludick gesê.
Volgens Schlesinger is dit duidelik dat die diewe nie ‘n benul het wat hulle doen of watter skade hulle aanrig nie.
“Hulle los duur toerusting en steel drade waarvoor hulle maar ‘n duisend rand kry,” het Schlesinger gesê.
Nog ‘n onderneming reg langs Ludick se abattoir, Struwig Bouers, het sedert Februarie vyf keer in tien dae deurgeloop. Sekuriteit help ook nie. Volgens Ludick betaal hy maandeliks ‘n sekuriteitsmaatskappy R6 000, maar steeds kom inbrake voor.
“Niemand vat verantwoordelikheid nie. Al wat hulle sê is sorry,” het Ludick gesê.
Schlesinger het sy verwondering uitgespreek oor waarom daar nie ‘n groter polisieteenwoordigheid in die area kan wees nie. Tog, het hy gesê, kan al die skuld nie na die polisie geslinger word nie.
“Wat van die mense wat die koper koop en ‘n mark daarvoor skep,” wou Schlesinger weet wat betref skootmetaalhandelaars.
Plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadike, het verlede week by navraag gesê dat die polisie sal aandag skenk aan die probleem. Die afgelope naweek was daar al ‘n groter polisieteenwoordigheid in die area bemerk, maar, volgens Sadike, nie ten koste van die res van die dorp nie. Sadike het genoem dat hulle sal kyk na ‘n langtermyn oplossing vir die probleem.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
