

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 April 2011
Louis Trichardt is gekies as een van die drie semi-finaliste in Limpopo vir Kwêla en Rapport se gewilde Dorp van die Jaar-kompetisie.
Die kompetisie word vanjaar in samewerking met Leopard’s Leap aangebied. Louis Trichardt en al die ander finaliste vir die agt ander provinsies is reeds Sondag in Rapport bekendgestel. Daar is ook meer vertel oor al die dorpe in ‘n spesiale uitsending van Kwêla Woensdagaand.
Inwoners het tot 3 Mei kans om vir Louis Trichardt te stem om as die wendorp in Limpopo te kwalifiseer. Die ander twee semi-finaliste is Tzaneen en Mookgophong.
Daar is groot pryse op die spel vir almal wat deelneem deur vir hulle gunsteling dorp te stem en natuurlik ook vir die dorp wat later vanjaar met die kroon sal wegstap. Gelukkige deelnemers kan van ‘n luukse hotel wegbreek tot ‘n Volkswagen POLO VIVO 1.4 ter waarde van R115 000 wen.
Die kompetisie werk só: Net die dorp met die meeste SMS-stemme sal deurdring na die finale rondte. Nadat al nege streke se wendorpe bekend gemaak is, sal die hele Suid-Afrika stem vir die wendorp van 2011. Die dorpe neem in nege streke deel. Dit verteenwoordig die provinsies van Suid-Afrika, met die uitsondering dat Gauteng en Noordwes as een streek deelneem. Namibië is die negende streek.
Louis Trichardt staan die kans om R1-miljoen se bemarkingswaarde van Kyknet asook van Rapport te wen. Daar sal ook twee ingangsborde geborg word om te wys dat Louis Trichardt die wendorp van 2011 is. Verdere pryse sluit in ‘n makietie met al die land se top kunstenaars, terwyl Leopard’s Leap ‘n wynkursus vir 50 kelners sal aanbied.
Om te stem, SMS Louis Trichardt na 33157. Elke SMS kos R1.50, so almal kan soveel kere stem as wat hulle wil.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
